ʼn 27-jarige man is dood nadat ʼn groep mense hom aangerand het ná ʼn sakeroof in Johannesburg se middestad.
“Die polisie het twee mans, onderskeidelik 27 en 29 jaar oud, Saterdag in hegtenis geneem in verband met die rooftog by Dehila Fashion op die hoek van Jeppe- en Delversstraat,” het al Xoli Mbele, woordvoerder van die polisie, gesê.
Vyf mans het glo omstreeks 12:00 die winkel betree en hulself as klante voorgedoen. “Twee van hulle het oor die toonbank gespring en geld geëis,” het Mbele gesê. “Een persoon het met ʼn vuurwapen by die deur gewaak terwyl sy medepligtiges die geld gevat het. Hulle het ook geld by klante gevat.”
Een van die werknemers het glo om hulp geskree en die rowers het met ʼn onbekende bedrag geld uit die winkel gevlug. “Lede van die gemeenskap het die verdagtes agternagesit en twee mans aangekeer. Hulle het ook ʼn vuurwapen, sonder ʼn reeksnommer, gevind,” het Mbele bygevoeg. “Die verdagtes is baie erg aangerand voor die polisie tot hul redding gekom het. ʼn Ambulans het hulle na ʼn hospitaal geneem onder polisiebewaking.”
Die 27-jarige man, wat glo gewapen was, het in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Drie rowers is nog steeds op vrye voet. “Die ondersoek duur voort,” het Mbele bygevoeg. “Die tweede man wat deur die gemeenskap aangekeer is, sal binnekort in die Johannesburgse landdroshof verskyn.”
Mbele het gesê die polisie doen ʼn beroep op die gemeenskap om nie verdagtes aan te rand wanneer hulle aangekeer word nie. “Moenie die reg in eie hande neem nie. Wanneer jy ʼn verdagte aanrand, pleeg jy ook ʼn misdaad. Bel asseblief die polisie sodra ʼn verdagte aangekeer is.” Hy het gesê samewerking tussen die polisie en die gemeenskap kan misdaadvlakke laat daal.