Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het Vrydag gesê Suid-Afrikaners moet toegang hê tot die land se bewerkbare grond, sodat hulle self tot die land se voedselsekuriteit kan bydra.
“Ons moet toegang hê tot grond. Ons mense moet toegang hê tot landbougrond. Die kwessie van voedselsekuriteit kan nie aan die TLU-SA [Transvaalse Landbou-Unie van Suid-Afrika] – ʼn rassistiese boere-organisasie, oorgelaat word nie,” het Mantashe aan duisende ANC-ondersteuners by die Uniegebou in Pretoria gesê. Hy het gesê huidige boere in Suid-Afrika “wil die indruk skep dat voedselvervaardiging slegs deur wit boere bewaar kan word”.
“Ons kan ook boere wees, maar om te kan boer, moet ons toegang hê tot grond. Jy kan nie ʼn boer wees tensy jy boer nie. Jy kan nie ʼn skrywer wees tensy jy skryf nie. Jy kan nie ʼn politikus wees tensy jy aktief in die politiek is nie. Hoekom word daar van ons verwag om boere te wees sonder toegang tot grond? Kom ons betree die grond,” het Mantashe gesê.

Gwede Manatshe tydens die ANC se optog teen rassisme op 19 Februarie 2016 in Pretoria se middestad Foto: @MyANC_, Twitter
Mantashe het die duisende ANC-ondersteuners tydens die party se optog teen rassisme toegespreek. Die verkeer is Vrydagoggend tot ʼn stilstand gedwing toe die duisende optoggangers van Burgerspark in die middestad gestap het. Die groep het teen middagete die Uniegebou bereik en musiek is hard oor die luidsprekers gespeel.
Verskeie ministers en regeringsamptenare, waaronder Tshwane-burgemeester Kgosientso Ramokgopa en Gauteng-premier David Makhura, het die verrigtinge bygewoon.
Talle persone in die skare het geel T-hemde aangehad met die woorde; “Hands off Zuma” en “Stem ANC”. Plakkate met die woorde “Registreer om ANC te stem” is ook rondgeswaai.