Die R101 in Modimolle (Nylstroom) in Limpopo is weer oopgemaak ná gewelddadige betogings in die gebied.
Inwoners het Vrydag die pad met klippe en brandende bande versper en glo ook ʼn vragmotor aan die brand gesteek.
Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê beamptes van die openbareorde-eenheid het met rubberkoeëls op die persone geskiet om die skare te verdryf. “Vyf persone het mediese behandeling ontvang vir geringe beserings,” het sy gesê. “Dit is nog nie duidelik of dit weens die rubberkoeëls was of algemene beserings is wat hulle tydens die betoging opgedoen het nie.”
Die inwoners betoog oor ʼn gebrek aan water in die gebied. Maroela Media het vroeër berig inwoners van Mankweng betoog ook oor ʼn gebrek aan water.
Otto het gesê gerugte dat iemand dood is, is vals.
“Niemand is nog formeel in verband met die betogings in hegtenis geneem nie,” het sy bygevoeg. “Die pad tussen Modimolle en Mookgophong (Naboomspruit) is Vrydagaand weer oopgemaak en voertuie kon daarop ry, alhoewel daar steeds ʼn paar klippe op die pad is.”