Die polisie het Vrydag ʼn beroep op die publiek gedoen om sekere paaie in Limpopo te vermy weens gewelddadige diensleweringsbetogings.
Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê twee afsonderlike betogings word in Phagameng, buite Modimolle en Mankweng, oos van Polokwane, gehou.
“Inwoners van Mankweng betoog al die afgelope paar dae in die omgewing weens verskeie diensleweringskwessies,” het Otto gesê. “Verteenwoordigers van die munisipaliteit is daagliks met die inwoners in gesprek om ʼn oplossing te vind.”
Betogende inwoners het Donderdagaand die R71 in die Mankweng-omgewing met klippe en bande wat aan die brand gesteek is, versper. “Die pad is Vrydagoggend deur die openbare-ordepolisie opgeruim, maar weens Donderdagaand se protesaksie is skole in die gebied vandag gesluit. Die skoliere het na die R71 in die Mentz omgewing opgeruk en is tans besig om die pad daar te versper.”
Otto het motoriste aangeraai om die gebied te vermy of om versigtig te wees.
In Phagameng betoog inwoners onder meer oor ʼn tekort aan water. Die R101 tussen Modimolle en Naboomspruit word met klippe en brandende bande versper. Otto het motoriste aangeraai om die pad te vermy en eerder van die N1-deurpad gebruik te maak.
Sy het gesê ʼn groep van sowat 1 000 betogers neem deel aan ʼn beskermde optog deur die strate van Modimolle. Die groep beweeg na die munisipale kantore waar ʼn memorandum oorhandig sal word.
Patrick Shika, woordvoerder van die Modimolle-munisipaliteit, het aan Maroela Media gesê die munisipaliteit is bewus van die waterprobleem in Phagameng. “Die Donkerpoortdam is slegs 32% vol en daar is al die afgelope twee maande probleme met die watertoevoer na veral uitbereiding agt en nege van Phagameng,” het Shika gesê. “Soms is die aanvraag na water meer as wat verskaf kan word en dan loop die reservoir gereeld leeg. Die munisipaliteit verskaf gereel water met tenkwaens.”
Hy het gesê die munisipaliteit werk saam met Magalies Water om vier boorgate in die omgewing te boor om beter waterverspreiding te verseker.
Otto het gesê die polisie sal ʼn kennisgewing aan die media uitreik as die situasies in die twee gebiede bedaar.










