
Argieffoto.
Groter klasse, lae klasgelde, swak gehalte en baie min navorsing is die voorland vir openbare universiteite indien die huidige stand van sake op kampusse voortduur.
Prof. Niek Grové, registrateur van die Universiteit van Pretoria (UP), meen dit is van die gevolge wat die voorgestelde wysiging aan die Wet op Hoër Onderwys vir universiteite inhou. Die wet sal dr. Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys en opleiding, se magte by universiteite aansienlik uitbrei.
Grové was een van die sprekers op die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se spitsberaad oor die studentebetogings en die implikasies daarvan vir universiteite en Afrikaans as onderrigmedium. Die geleentheid is Woensdag by die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) in Pretoria aangebied.
“Universiteite sal voel asof hulle soos staatsdepartemente bedryf word, met die minister wat oor taalbepalings sal besluit, rade kan ontbind, transformasiedoelwitte stel en finansiering kan weerhou. Daar is geen vreugde of voorspoed op die pad waarop universiteite tans is nie,” het hy gesê.
Volgens hom beloop die verlies aan eiendom sedert die betogings op kampusse verlede jaar begin het, reeds meer as R200-miljoen.
Universiteite se finansieringsmodelle
Dr. Herman van Schalkwyk, voormalige rektor van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus, wat nou konsultant en eienaar van Aginfo is, meen Suid-Afrika staan op die drumpel van ʼn finansiële krisis in hoër onderwys.
“Die ooreenkoms rondom die #FeesMustFall-veldtog, wat beteken klasgelde sal nie in 2016 verhoog word nie, sal ʼn domino-effek op universiteite se finansies in die toekoms meebring. Universiteite sal op bedryfs- en kapitaalkoste moet bespaar en die langtermyngevolge van hierdie besnoeiings kan ʼn negatiewe impak op gehalte meebring,” het Van Schalkwyk gesê.
Hoewel die staat aangebied het om 75% van die universiteite se verliese aan die inkomste van klasgelde te dek, moet universiteite steeds die ander 25% êrens vind. Dit moet gedoen word terwyl die staat se subsidie aan universiteite reeds nie tred hou met werklike inflasie nie en daar beperkte hoeveelheid inkomste uit ander bronne gegenereer kan word.
“Hoër onderwys word met baie uitdagings gekonfronteer wat almal gefinansier moet word. Openbare universiteite is in die moeilikheid, maar ek dink nie almal besef dit nog heeltemal nie. Baie universiteite sal binnekort gered moet word van finansiële ondergang en selfs gehalteverarming.”
Perspektiewe op Afrikaans
Nog ʼn spreker by die spitsberaad, prof. André Duvenhage van die departement politieke wetenskap aan die NWU, meen min ruimte bestaan vir die voortbestaan van Afrikaanse universiteite. “Universiteite reflekteer toenemend die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing en die politieke ideologie van die huidige regime.”
Dr. Theuns Eloff het in sy toespraak tydens dié beraad gesê Afrikaanse onderrig by die UP is reeds verby, terwyl die Universiteit van die Vrystaat reeds in 2017 sal verengels. “Stellenbosch se demografie sal verseker dat Afrikaans nog vir moontlik vyf jaar as onderrigtaal by die universiteit gebruik word, maar met slegs 50% van die studente wat Afrikaans is en net 30% van hulle wat in Afrikaans wil klas draf, lyk die prentjie vir die taal maar donker. Die bestuur en akademici is ook negatief oor Afrikaans. Tog is ons dankbaar vir die raad wat nog sterk voel oor gelyke bemagtiging vir Afrikaans, maar die vraag is hoe lank kan die raad teen die senaat en bestuur uithou.”
Eloff meen die NWU kan moontlik nog vir die volgende tien jaar van Afrikaans as onderrigmedium gebruik maak. “Potchefstroom se afgesonderheid as plattelandse dorp kan in Afrikaans se guns tel, sowel as die Afrikaanse studente wat aktivisties is.”
Hy het verder gesê studente het ʼn reg tot onderrig in die taal van hul keuse en daarom sal dit goed wees as die studente ʼn klas-aksie vir Afrikaanse onderrig begin. “Afrikaanssprekende studente moet begin opstaan en ʼn saak in die grondwethof sal beslis ʼn goeie ding wees. Dit sal nog beter wees as bruin en wit studente kan saamstaan oor Afrikaanse onderrig.”
Toekoms van hoër onderwysinstellings
“Terwyl ons vir Afrikaans veg aan openbare universiteite, sal dit nie dom wees om privaatinstellings te begin nie,” het Eloff gesê. Hy het ondermeer na Akademia verwys, wat reeds grade in ekonomie en bestuurswetenskappe in Afrikaans aanbied. Prof. Anne-Marie Beukes, hoof van die departement linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg en prof. Hennie van Coller het ook hierdie mening ondersteun.
“Wat beteken dit as ons navorsingsuniversiteit ons faal? Ons land sal vir ewig bakhand moet staan vir oplossings vir ons eie probleme by ander lande. Ons sal oplossings moet koop by lande soos Brittanje en Korea – dit is kolonialisme in sy suiwerste vorm,” het Grové gesê.
Grové meen daar sal beslis ʼn toename in privaat universiteite in die toekoms wees. “Dit is die enigste goeie nuus in die huidige konteks. Hierdie universiteite sal heeltemal anders lyk as waaraan ons gewoond is en dit is ideologies nie iets wat die staat graag sal wil doen nie, maar dit is waarheen die tye ons lei.”