Kavir Maharaj staan tereg op sewe aanklagte van diefstal, waarby altesaam R53 376 betrokke is, wat hy na bewering tussen Januarie en Julie verlede jaar by die Cape Verde hotel in Kaapstad gesteel het. Maharaj het in die spesialishandelsmisdaadhof in Belville voor landdros Sabrina Sonnenberg verskyn.
Hy is glo vasgetrek toe die hotel se sakebestuurder verdagte transaksies op die restaurant se transaksiestelsel opgemerk het, almal aan die einde van die dag wanneer die werknemers skofte geruil het. Beeldmateriaal het glo gewys hoe Maharaj die stelsel manipuleer en dat hy teenwoordig was toe gepeuter is met die papierwerk van die kasregisters.
Adv. Gertrude Magopeni, die staatsaanklaer, het gesê Maharaj het kontantbetalings vir minder as die werklike bedrag op die stelsel aangedui en die res van die kontant vir homself gehou.
Die saak is tot 25 Julie uitgestel, wanneer Maharaj na verwagting gevra sal word om op die aanklagte teen hom te pleit.