ʼn Vrou is Woensdagoggend dood toe die motor waarin sy drie kinders na ʼn skool in KwaZulu-Natal geneem het, in ʼn ongeluk betrokke was.
Volgens Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het die ongeluk in die Albert Falls-omgewing, noord van Pietermaritzburg, plaasgevind.
“Die vrou, in haar 40’s, het beheer oor die motor verloor. Dit het van die R33-pad af geswenk en verskeie kere teen ʼn steilte afgerol,” het Bodasing gesê. Die motor het op sy dak tot stilstand gekom.
“Twee seuns en ʼn meisie, tussen sewe en 12 jaar oud, het matige beserings opgedoen. Die vrou is in ʼn kritieke toestand naby die motor aangetref. Paramedici het onverpoosd probeer om haar te stabiliseer, maar sy is op die toneel dood.”
Die kinders is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Die oorsaak van die ongeluk is onbekend en word ondersoek.