Een persoon is Maandag dood en nog drie beseer toe twee vragmotors en ʼn motor in Durban gebots en die vragmotors aan die brand geslaan het.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het op die M7 onder die N2 gebeur.
“Paramedici het op die toneel opgedaag en die wrakke van die vragmotors en motor onder die brug gevind. Brandbestryders was vinnig op die toneel en het begin om die vlamme te blus,” het Meiring gesê.
Nadat die vlamme geblus is, is een van die vragmotorbestuurders se liggaam in die vragmotor gevind. Die bestuurder van die ander vragmotor het matige beserings opgedoen.
Twee ander mense is ook beseer en per ambulans na ʼn hospitaal vervoer.
Die polisie sal die ongeluk ondersoek.
