Drie mense is dood en twee beseer tydens ʼn skietery Maandagoggend by ʼn woonstelblok in Doonside, suid van Amanzimtoti in KwaZulu-Natal.
Maj. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 07:20 in ʼn woonstel in Beachweg plaasgevind.
“ʼn Man het sy vrou en drie ander mense geskiet. Twee is dood en twee beseer. Die man het daarna selfmoord gepleeg,” het Zwane gesê. Paramedici van ER24 en Netcare 911 is na die toneel ontbied.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het die toneel as ʼn bloedbad beskryf. “ʼn Man wat in die woonstel gebly het, het sy vrou doodgeskiet en sy swaer lig gewond. Die opsigter van die woonstelblok is ook doodgeskiet en sy dogter is kritiek gewond voordat die man homself geskiet het,” het Botha aan Maroela Media gesê.
“Die vrou en die opsigter was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het. Die vermeende skieter het nog gelewe. Albei spanne het sowat ʼn uur tevergeefs probeer om sy lewe te red. Hy is op die toneel dood verklaar.”
Die opsigter se dogter is in ʼn kritieke toestand na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas. Die swaer is skrams gewond. Hy is op die toneel behandel en het hospitaalopname geweier.
Die polisie ondersoek twee sake van moord en twee van poging tot moord. ʼn Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen. Die mense se onderskeie ouderdomme was nie dadelik beskikbaar nie, maar volgens Botha is almal volwassenes.
Die oorsaak van die skietery word ondersoek.