Die kerkverteenwoordigers het deur die myn gestap terwyl naby familielede van die drie vasgekeerde mynwerkers gewag het op nuus van die myn se bestuur. Lede van die media het buite die hoofingang saamgedrom, maar is nie toegelaat om die perseel binne te gaan nie.
In die dorp self het gemeenskapslede hul kommer uitgespreek oor die drie mynwerkers wat al sedert 5 Februarie in ʼn skeepshouer ondergronds vasgekeer is ná ʼn ineenstorting by die myn. Adriaan Meyer, ʼn inwoner, het gesê sy gesin bid daagliks vir die drie mynwerkers.
“Hulle werk is baie gevaarlik, maar weens die hoë vlakke van werkloosheid in die land aanvaar mense enige werk. Dit is tyd dat alle Suid-Afrikaners verenig in gebed,” het Meyer gesê.
Die presidensie het Saterdag aangekondig dat drie ministers aangewys is om die families van die drie vasgekeerde mynwerkers te ondersteun.
Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, het ook Saterdag aangekondig dat Vantage Goldfields, wat die myn besit, R200 000 aangebied het aan elk van die vasgekeerde mynwerkers se gesinne. Die 76 mynwerkers wat gered is ná die ineenstorting sal ook vergoeding ontvang.
Reddingsoperasies by die myn is vroeër Saterdag opgeskort ná nog ʼn ineenstorting.