Mathatha Tsedu, Sanef se uitvoerende direkteur, het Sondag in ʼn verklaring gesê daar is tydens ʼn raadsvergadering in Kaapstad ooreengekom dat die forum dringend met die EFF sal vergader om die gevolge van dié dreigemente teenoor joernaliste te bespreek.
Volgens Tsedu is die Sanef-raad ook bekommerd oor die “direkte inmenging van die bestuur of aandeelhouers [van mediamaatskappye] by die redaksionele besluitnemingsproses” en beplan verdere stappe in dié verband.
Die verklaring volg nadat Julius Malema, leier van die EFF, op 4 Februarie by ʼn nuuskonferensie in Johannesburg vir joernaliste van ANN7 en The New Age, wat albei deur die Gupta-familie besit word, gesê het hulle is nie welkom by EFF-byeenkomste nie. “Gupta moet die land verlaat. Ons is moeg oor die Guptas gepraat,” het Malema gesê.
“Ons gaan praktiese stappe doen. Gupta-media moenie weer na EFF-byeenkomste toe kom nie. Ons wil nie The New Age of ANN7 sien nie. Ons kan nie die veiligheid van die mense wat The New Age en ANN7 uitgee, waarborg nie.”
Tsedu het gesê die raad het die “verandering in die medialandskap” deurtastend bespreek, asook die implikasies daarvan op redaksionele onafhanklikheid. “Die gevolg van kommersiële en ander druk is inmenging in die redaksionele besluitnemingsproses en die vervaging van grense tussen advertensie- en redaksionele inhoud,” het hy gesê.
“Hierdie botsende en gespanne verhouding tussen redakteurs en aandeelhouers of bestuurders het oor die afgelope twee jaar tot talle redakteurs se bedanking gelei – ʼn onhoudbare situasie wat die kern van mediavryheid bedreig wat noodsaaklik is vir die behoud van ons demokrasie.”
Hy het gesê die EFF se “ernstige dreigemente” noop die raad om die ontplooiing van die bedryf te ondersoek en navorsing te doen oor die nuwe medialandskap en moontlike modelle en oplossings.
“Totdat ons navorsing afgehandel is, doen Sanef ʼn beroep op aandeelhouers en bestuurslede om redakteurs toe te laat om hul redaksionele diskresie te handhaaf en hul werk sonder inmenging te doen,” het Tsedu gesê.