Die maatskappy het die sluiting in ʼn artikel 189-kennisgewing aangekondig nadat werknemers Woensdag huis toe gestuur is omdat die maatskappy nie in staat is om hul salarisse te betaal nie. Sowat 1 753 van die maatskappy se werknemers word deur die sluiting geraak.
Marius Croucamp, adjunk-hoofsekretaris van Solidariteit, het gesê die vakbond het ʼn beroep op die regering gedoen om sy rol in die krisis, asook sy verantwoordelikheid teenoor die maatskappy en sy werknemers, te erken.
Volgens Croucamp sal Highveld Steel se sluiting die plaaslike ekonomie en welvaart van Witbank tot in sy fondamente ruk. “As vakbond sal ons steeds alles in ons vermoë doen om te keer dat Highveld Steel sy deure finaal sluit. Ons sal tydens die afleggingsittings met die werkgewer alle verdere alternatiewe tot afleggings voorstel en ondersoek,” het hy gesê.
Die afleggingsproses volg nadat alternatiewe maatstawwe, waaronder die kooptransaksie met ’n Chinese maatskappy, International Resources Limited (IRL), deur die mat geval het. Boonop is Highveld Steel se ooreenkoms met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) om sy werknemers op ’n opleiding-afleggingskema te plaas, beëindig. Laasgenoemde hou direk verband met die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se niebetaling van noodsaaklike geld aan die maatskappy.
Croucamp het gesê Solidariteit sal, ten einde die uitwerking van die afleggingsproses op sy lede te versag, na sy lede se belange omsien tydens die samesprekings met die maatskappy. “Ons sal onder meer, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, voedselpakkies aan lede en hul gesinne voorsien,” het hy gesê.
Volgens Croucamp het Solidariteit al telkens daarop gewys dat die regering met hoë belasting, ondermyning van eiendomsreg en die daarstel van allerlei administratiewe rompslomp direk daartoe bydra dat ondernemings finansieel sukkel. Hy het ook gesê dit is baie jammer dat die WVF op die laaste nippertjie die betaling van geld aan Highveld Steel weerhou het.
“Daar is verskeie ongerymdhede in die optrede van die departement van arbeid ten opsigte van Highveld Steel en die krisis waarin die maatskappy hom bevind,” het hy gesê. “Die gevolg is dat duisende mense moontlik hul werk kwyt gaan wees. Ons sal tydens afleggingsittings en beraadslaging hierdie kwessies onder die loep neem.”