
Argieffoto Foto: milkwood.net
Die departement van water en sanitasie het Vrydag sy toewyding bevestig om van die emmer-toiletstelsel ontslae te raak.
“Die departement is bewus van en aanvaar dat toegang tot waardige sanitasie ʼn basiese menslike reg is,” het Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê. “In hierdie verband het die departement twee toelaes wat die agterstand van sanitasie in die land wil aanspreek.” Die departement het die Plattelandse Huishoudelike Infrastruktuur-toelaag en die Emmer-uitwissingstoelaag ontvang.
Volgens Ratau sal die departement fokus op huishoudings wat steeds in formele gebiede van emmertoilette gebruik maak en dit teen Desember 2015 vervang met watersanitasie.
“Die departement ontwikkel ook ʼn plan wat die informele dele in die volgende finansiële jaar, 2016/17, sal aanspreek,” het hy gesê. “In die plattelandse dele fokus die program op die formele dele. Munisipaliteite hou vol met hul verantwoordelikhede vir water en sanitasie-behoeftes in informele dele totdat die formalisering van die gebiede of hervestiging van die gebiede bevestig is.”
Provinsies met ʼn groot agterstand in sanitasie is die Vrystaat, Oos-Kaap, Limpopo, KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap. Die geraamde koste om die algehele sanitasie agterstand in te haal, beloop ongeveer R50 miljard.