
Een van die meisies wat valslik daarvan beskuldig is dat sy haar gesig “swart” gesmeer het Foto: Facebook
Martin Viljoen, woordvoerder van die universiteit, het gesê die meisies is toegelaat om na die Heemstede vrouekoshuis, waar hulle voor hul skorsing gewoon het, terug te keer.
Die meisies is geskors nadat ʼn foto van hulle op sosiale media versprei is waarop hul gesigte oënskynlik swart geverf is. Dit het later aan die lig gekom die meisies se gesigte was eintlik pers geverf en met blinkers bedek vir die koshuis se sterreruim-partytjie.
Volgens Viljoen het die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid ʼn uitgebreide ondersoek na die voorval van stapel gestuur, waarna hulle ʼn aanbeveling aan die US-bestuur gemaak het dat die studente se skorsing opgehef word.
“Die US-bestuur het gistermiddag [Donderdag] die aanbeveling aanvaar en opdrag gegee die twee studente moet genooi word om na hul koshuis terug te keer. Die twee vroue is reeds gisteraand in die koshuis terugverwelkom en een van hulle is in haar posisie as mentor heraangestel,” het hy gesê.
Volgens die Eenheid vir Gelykwaardigheid was dit nooit die studente se bedoeling om enige persoon aanstoot te gee of skade te berokken nie. Die eenheid het ook bevind die voorval was nie werklik ʼn ‘blackface’-voorval nie en hierdie persepsie is deur sosiale media aangevuur.
Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, het gesê die bestuur betreur die trauma wat die twee studente, die huiskomitee, die inwonende hoof en inwoners moes ervaar.
“Hoewel ek tevrede is dat die korrekte prosedures ingevolge die konsepbeleid gevolg is, besef ons dit was vir die twee studente ʼn baie moeilike tyd. Die universiteit sal voortgaan om hulle te ondersteun terwyl hulle weer by die koshuis inskakel,” het hy gesê.
“Die insident herbevestig hoe belangrik konstruktiewe gesprekvoering oor belangrike kwessies op kampus is. Alle gesprekke moet gevoer word in die gees van die US se kernwaardes, soos in ons institusionele voorneme en strategie vervat, naamlik empatie, medeverantwoordbaarheid, diensbare leierskap, uitnemendheid en innovasie.”
Lees alle vorige berigte oor die swartgesig-aangeleentheid op Maroela Media.