Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Staatsrede 2016: Zuma wil gordel styftrek; slegs een hoofstad voorgestel

$
0
0
Die verbyvlug voor die staatsrede op 11 Februarie 2016 in Kaapstad Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die verbyvlug voor die staatsrede op 11 Februarie 2016 in Kaapstad Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma het Donderdag in die parlement in Kaapstad sy staatsrede gelewer ná ʼn aanvanklike ontwrigting deur EFF-LP’s.

Zuma het uiteindelik omstreeks 20:00 met sy toespraak begin, nadat speaker Baleke Mbete gesukkel het om die LP’s onder beheer te bring. Maroela Media het vroeër berig LP’s van Cope en EFF het uiteindelik die parlement verlaat.

Zuma het in die lig van onlangse gebeure aangekondig dat Menseregtedag op 21 Maart, vanjaar as ʼn nasionale dag teen rassisme gevier sal word.

Ekonomie

Die president het daarop gewys dat markte wêreldwyd onstabiel is en dat die Wêreldbank voorspel het dat Suid-Afrika se ekonomie vanjaar met minder as 1% sal groei. “Daarom moet daar ʼn omdraaiplan wees, ons moet dinge ander begin doen,” het hy gesê. “Ons gaan moet optree waar ons vroeër dalk versuim het om vinnig op te tree.”

President Zuma, mev. Bongi Zuma, Speaker Baleka Mbete en Thandi Modise, nasionale voorsitter van die Raad van Provinsies (Staatsrede 11 Februarie 2016) Foto: Elmond Jiyane, GCIS

President Zuma, mev. Bongi Zuma, Speaker Baleka Mbete en Thandi Modise, nasionale voorsitter van die Raad van Provinsies (Staatsrede 11 Februarie 2016) Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Beleggingsbestemming

Zuma het daarop gewys dat die land nog steeds ʼn aantreklike beleggingsbestemming bly, en dat die positiewe eienskappe baie swaarder weeg as die uitdagings wat die land beleef. “Ons moet steeds die land as ʼn aantreklike beleggingsbestemming bly bemark,” het hy verduidelik.

Zuma het gesê daar is Dinsdag suksesvolle gesprekke gevoer met persone uit die besigheidsektor en uitvoerende hoofde van maatskappye. “Ons het voorstelle aangehoor van maniere hoe ons die situasie kan omdraai en ons ekonomie weer kan laat groei.”

Hy het bygevoeg dat die land ʼn “eenstopwinkel” wil wees vir beleggers, en dat die regering dit so maklik as moontlik wil maak vir die privaat sektor om in die land te belê. ʼn Interministeriële komitee word aangestel om struikelblokke vir beleggingsmoontlikhede te ondersoek en uit die weg te ruim.

Staatsbeheerde ondernemings

Zuma het daarop gewys dat verskeie staatsbeheerde ondernemings, soos Sanral, die Trans-Caledon Tonnelowerheid (TCTA), Transnet en Eskom (ondanks uitdagings), baie goed vaar.

Toerisme

Hy het ook gesê dat die land voordeel moet trek uit die wisselkoers en wysigings in visumregulasies om toerisme te bevorder. Die regering sal R100 miljoen per jaar belê om plaaslike toerisme te bevorder. Die regering wil Suid-Afrikaners aanmoedig om deur hul eie land te toer.

Migrasiebeleid

Die president het ook gesê hulle slaan ag op besware van ondernemings wat betref visums vir vaardige werkers van oorsee. “Die migrasiebeleid moet dit moontlik maak om skaars vaardighede in te voer en ʼn wysigingswetsontwerp op die migrasiebeleid sal gedurende 2016 voorgehou word,” het hy bygevoeg.

Vermorsing van staatsgeld

Zuma het gesê die regering moet belastinggeld op wyse maniere bestee en verkwistende uitgawes gaan nie meer geduld word nie. Van die maatreëls wat ingestel gaan word, sluit in:

* enige lid van die parlement wat oorsee wil reis, moet aansoek doen en sal baie sterk moet motiveer waarom dit tot voordeel vir die land sal wees
* die grootte van afvaardigings gaan ook baie beperk word en gestandaardiseer word
* daar word verdere beperkings geplaas op konferensies, spyseniering, vermaak en sosiale funksies
* staatsdepartement sal geen dinees meer in die parlement hou vir belanghebbendes wat begrotingsverkiesings bywoon nie

Hy het gesê die minister van finansies sal verdere maatreëls tydens sy begrotingsrede op 24 Februarie bekend maak.

Hy doen ʼn beroep op die premiers van die nege provinsies, hul burgemeesters, die parlement en die regbank, om in die regering se voetspore te volg en soortgelyke maatreëls in te stel.

Prsident Jacob Zuma lewer sy staatsrede op 11 Februarie 2016 Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Prsident Jacob Zuma lewer sy staatsrede op 11 Februarie 2016 Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Een hoofstad

Pres. Zuma het verder genoem dat die parlement dringend die saak van twee hoofstede moet oorweeg, waar Pretoria tans die land se uitvoerende hoofstad en Kaapstad die wetgewende hoofstad is. “Die Uitvoerende Raad het hierdie saak ondersoek en besef dat die koste te hoog is om dit vol te hou. Dit beteken dat lede in die Uitvoerende Raad twee huise moet hê, een in Pretoria en een in Kaapstad, twee motors moet hê, een in Pretoria en een in Kaapstad, en ʼn aantal beamptes wat op en af moet reis, en omdat hulle nie infrastruktuur het nie, in hotelle moet tuisgaan.

“Hierdie saak moet dringend aandag geniet,” het hy gesê.

Negepuntplan

Zuma het weer verwys na die negepuntplan wat hy in sy staatsrede in 2015 aangekondig het, en genoem dat die regering reeds beduidende vordering gemaak het op verskeie gebiede. Die negepuntplan is soos volg:

1. ʼn Oplossing vir die energie-uitdaging
2. Herlewing van landbou en die landbouverwerkingswaardeketting
3. Bevordering van veredeling of die toevoeging van waarde tot ons minerale rykdom
4. Meer doeltreffende implementering van ʼn aksieplan met groter impak vir ʼn industriële beleid
5. Aanmoediging om in die private sektor te belê
6. Moderering van konflik in die werkplek
7. Die ontsluiting van die potensiaal van klein-, medium- en mikro-ondernemings, koöperasies, township- en landelike ondernemings
8. Staatshervorming en die bevordering van die rol van maatskappye in staatsbesit; infrastruktuur vir inligtingskommunikasie-tegnologie of die inwerkingstelling van breëband-, water-, sanitasie- en vervoerinfrastruktuur
9. Operation Phakisa, wat gemik is op die ontwikkeling van die oseaan-ekonomie asook ander sektore

Elektrisiteit

Zuma het onder andere gesê die regering het die elektrisiteitstoevoer gestabiliseer en daar was sedert Augustus 2015 nog nie weer enige beurtkrag nie – dit het verligting gebring vir huishoudings en nywerhede. Die regering het R83 miljard in Eskom belê. Bykomende eenhede sal in 2017 aangeskakel word en sinchronisasie sal reeds vanjaar begin.

Die land se energiemengsel sal bestaan uit steenkoolaanlegte, gas en kernkrag. “Ons plan is om binne die volgende 10 jaar ongeveer 9 600 MW kernkrag van Koeberg beskikbaar te maak. Ons sal slegs kernkrag aanskaf op die skaal en tempo wat ons land kan bekostig.”

Vroulike boer van die jaar, Julia Shungube Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Vroulike boer van die jaar, Julia Shungube Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Landbou

Zuma het gesê die land doen moeite om nuwe lewe in die landboubedryf te blaas, insluitend om deelname van kleinhoeweboere aan te moedig.

Hy het gesê vroulike boere en entrepreneurs word ook bevorder. Hy het Julia Shungube van Nkomazi-munisipaliteit in Mpumalanga, uitgesonder nadat sy aangewys is as die land se beste jong boer. Sy was ʼn sekuriteitsbeampte wat deeltyds begin boer het.

Grondbesit

Zuma het gesê die regering sal deur middel van die Wetsontwerp op Grondbesit ʼn beperking van 12 000 hektaar plaas op grondbesit. Uitlanders sal nie grond mag besit nie, maar hulle sal in aanmerking kom om aansoek te doen vir langtermyn huur van grond.

Grondeise

Die president het gesê persone wat in 1998 die sperdatum gemis het, sal weer grondeise kan indien. “Nagenoeg 120 000 nuwe grondeise is teen Desember 2015 ingedien.”

Droogte

Zuma het daarop gewys dat vyf provinsies, naamlik Noordwes, KwaZulu-Natal, Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga, tans gebuk gaan onder droogte. Hy het daarop gewys dat die regering verligting bied aan betrokke gemeenskappe.

Hy het burgerlike inisiatiewe soos Operation Hydrate en ander veldtogte geloof.

Minimumloon

Die president het gesê die regering verwelkom die ooreenkomste wat by Nedlac aangegaan is wat minimumloon vir werknemers betref. Hy het benadruk dat minimumlone egter nie werkskepping moet ondermyn nie en dat daar steeds volhoubare groei moet wees vir klein ondernemings.

Hy het gesê daar is ook berigte vanaf Nedlac dat ‘n raamwerk om die arbeidsmark te stabiliseer, deur die duur van stakings en geweld tydens stakings te verminder, gefinaliseer word.

Lewensverwagting

Zuma het gesê die lewensverwagting vir Suid-Afrikaners, mans en vroue, is tans 62 jaar. Hy het gesê dit is ʼn toename van 8 en ʼn half jaar sedert 2005. Hy skryf dit toe aan suksesvolle MIV/Vigs-veldtogte. Volgens hom sal die minister van gesondheid binnekort ʼn groot veldtog aankondig wat voorkoming van MIV/Vigs onder die jeug betref.

Buitelandse betrekkinge en AGOA

Zuma het gesê Suid-Afrika wil sy vennootskappe met ander lande verstewig. China het reeds ʼn belegging van $10 miljard onderneem vir infrastruktuur-, nywerheids-, en vaardigheidsontwikkeling in Suid-Afrika. “Ons bou ook voort op ons verhouding met die Europese Unie, ons grootste handelsvennoot en buitelandse belegger. Ons wil ook bande verstewig met die VSA en Kanada.”

Die president het gesê alle uitstaande kwessies wat die Amerikaanse wet oor groei en geleenthede vir Afrika (Agoa) betref, word aangeroer.

Nasionale Ontwikkelingsplan

Zuma het gesê, gegewe die huidige ekonomiese klimaat, sal die regering nie die teiken wat hy vir homself gestel het deur die Nasionale Ontwikkelingsplan van ʼn groeitempo van 5% per jaar, teen 2019 haal nie.

“Ons kan nie wêreldwye ekonomiese toestande verander nie, maar ons kan baie doen om plaaslike toestande te verbeter, as ons saam werk om die situasie om te draai. Dit kan gedoen word.”

Lees alle berigte oor Staatsrede 2016 op Maroela Media.
Lees die president se volledige toespraak.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!