
Polisiebeamptes beheer die skare voor die staatsrede in Kaapstad (11 Februarie 2016) Foto: ANA
Polisiebeamptes is Donderdag genoodsaak om van skokgranate gebruik te maak in Kaapstad se middestad om groepe mense te beheer wat voor pres. Jacob Zuma se staatsrede, saamgedrom het.
Aanvanklike berigte dui daarop dat die polisie skokgranate op ondersteuners van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) naby St George-katedraal gevuur het.
ʼn Paar omstanders kon ʼn bejaarde toeristepaartjie help wat in die chaos beland het. Hulle was op pad na die Adderley-hotel waar hulle tuisgaan.
Die polisie het ook betogers in Adderleystraat en in Darlingstraat teruggedwing in die rigting van die parade, weg van die parlementêre distrik.
ʼn Groep mense is ook tussen Pleinstraat en die stadsaal voorgekeer deur polisiebeamptes in pantservoertuie.
Die stad het sy goedkeuring gegee dat drie optogte op verskeie punte in die stad mag plaasvind. Die Ses’Khona People’s Rights Movement, die Demokratiese Alliansie en ondersteuners van die #ZumaMustFall-beweging het toestemming ontvang. Verskeie ander groepe, waaronder die EFF en die Wes-Kaapse tak van die ANC het ook Donderdag in die middestad bymekaargekom.
Volg die president se staatsrede regstreeks: