ʼn Beampte van die departement van korrektiewe dienste is Dinsdag in Worcester in die Wes-Kaap in hegtenis geneem nadat hy glo deelgeneem het aan ʼn moord waar die inwoners gereg in eie hande geneem het.
“Die 39-jarige beampte is in Zwelitsha in Worcester in hegtenis geneem tydens ʼn voorval van openbare geweld waartydens ʼn vermeende misdadiger gesterf het,” het Nasiphi Same, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die slagoffer is met klippe en ander gevaarlike voorwerpe aangerand, en hy is later na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling. Hy het aan sy beserings beswyk.”
Same het gesê die beampte, ʼn werknemer van Brandvlei-gevangenis, is op die toneel in hegtenis geneem. Hy was in uniform. Hy sal na verwagting Donderdag in die Worcester-landdroshof verskyn op aanklag van openbare geweld en moord.