
Argieffoto
Een van oudpresident Nelson Mandela se kleinseuns, wat tereg staan op aanklag van verkragting, het Vrydag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.
Die 24-jarige, wie se naam nog nie bekend gemaak mag word voordat hy gepleit het nie, se borgtogverhoor is uitgestel tot Dinsdag.
Sy prokureur het vier beëdigde verklarings aan landdros Pieter du Plessis voorgehou waarom Mandela se aansoek om borgtog goedgekeur moet word. Du Plessis het die getuienis in die dokumente gelees en genoem dat daar ook ʼn saak hangende is teen die beskuldigde wat spruit uit ʼn vorige voorval.
Du Plessis was blykbaar nie oortuig nie en het Mandela se prokureur gevra onder watter omstandighede sy kliënt se borgtog toegestaan moet word.
Mandela voer in sy beëdigde verklaring aan hy en die klaagster, wie se ouderdom Vrydag betwis is, het konsensuele seks gehad.
Mandela se prokureur het aan die hof gesê volgens haar Facebook-blad is sy in 1999 gebore, maar sy het glo aan die kelner by die restaurant, waar die beweerde verkragting plaasgevind het, gesê sy is 18 jaar oud.
Du Plessis het daarop reageer deur te sê talle onwaarhede word op Facebook gepubliseer en het versoek dat die klaagster se identiteitsdokument Dinsdag aan die hof voorgehou moet word. Haar ouderdom maak ʼn verskil in die skedule-misdaad waardeur Mandela moontlik in die gesig gestaar kan word. Hy staan tans tereg op aanklag van ʼn skedule 6-misdaad, wat beteken dat die onus op hom rus om die hof te oorreed dat sy aansoek om borgtog goedgekeur moet word.
Sy prokureur het die hof uitstel tot Dinsdag versoek sodat hy nóg ʼn verklaring van ʼn ooggetuie kan indien.
Mandela bly in aanhouding by die Parkview-polisiestasie totdat hy weer in die hof moet verskyn.
Lungelo Dlamini, woordvoerder vir die polisie, het vroeër vandag bevestig ʼn man staan tereg op ʼn aanklag van verkragting, maar wou nie verdere besonderhede beskikbaar maak voor sy hofverskyning nie.
Die beskuldigde het Maandag vir die eerste keer in die hof verskyn nadat hy verlede Vrydag in hegtenis geneem is.
Die beweerde verkragting het op 7 Augustus in die badkamer van ʼn restaurant in Greenside, Johannesburg, plaasgevind. Die klaagster voer aan Mandela het haar na die badkamer agtervolg en in ʼn toilethokkie verkrag.