Die bestuur van Wits het Maandag gesê graffiti teen kampusgeboue waarin wit mense gevloek word, is “vryheid van uitdrukking” en daarom sal daar nie verdere stappe gedoen word nie.
Volgens die verklaring is die bestuur van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) bewus van die graffiti teen verskeie geboue op die kampus en dit is intussen verwyder.
Die graffiti met die woorde “F*** White People” is glo deur ʼn groep aangebring wat ʼn persoon ondersteun wat Woensdag voor die Menseregtekommissie (MRK) sal verskyn nadat hy ʼn T-hemp gedra het met woorde agterop wat wit mense vloek. Dit is nie duidelik wie die klag by die MRK aanhangig gemaak het nie.
“As die senior uitvoerende span van Wits veroordeel ons die aanstootlike boodskappe ten sterkste en die aanstoot wat dit lede van ons gemeenskap kan gee. Ons het oor die saak beraadslaag en hoewel ons nie met die optrede van die groep studente saamstem nie, is ons wetlik ingelig dat die stellings nie ʼn oortreding van ons land se Grondwet is nie, aangesien vryheid van uitdrukking toegelaat word solank dit nie aanhitsing is om leed te veroorsaak nie,” lui die verklaring.
“Die universiteit keur nie die optrede van hierdie studente goed nie … en ons moedig hulle ten sterkste aan om hierdie aanstootlike en kwetsende optrede te staak.”
Die bestuur het ook reageer op ʼn stelling wat deur die groep gemaak is dat swart mense nie rassiste kan wees nie, deur te sê daar is ʼn “ernstige metodologiese en intellektuele probleem” met die siening. “Dit is ons siening dat dit inderdaad moontlik is vir mense om op ʼn ras-aanstootlike manier teenoor wit mense op te tree,” het hulle gesê.
Die verklaring lui voorts dat die gedrag van die groep studente nie met veiligheidsmaatreëls beheer kan word nie, maar dat “maatskaplike konvensie” nodig is om die kwessie te bespreek. “Ons moet bo goedkoop politiekery uitstyg en eerder hierdie geleentheid gebruik om betekenisvolle transformasie in die hoëronderwyssektor en samelewing teweeg te bring.”