Montana het tydens ʼn mediakonferensie gereageer op ʼn hofaansoek wat teen hom by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien is, waarin daar beweer word dat hy onbehoorlik baat gevind het by Prasa se verhouding met een van hul kontrakteurs, Siyangena Technologies.
Montana het ontken dat hy enigiets verkeerd gedoen het en het gesê dit is bloot ʼn poging deur Prasa om ʼn dispuut met Siyangena te vermy. Siyangena het Prasa hof toe gesleep oor betalings wat nie gedoen is nie nadat die kontrakteur dienste gelewer het.
“Ek dink nie Popo Molefe werk alleen in hierdie ondersoek nie. Ek dink hierdie hele saak het politieke aspekte wat dit beïnvloed,” het Montana gesê. “Volgens my inligting werk en konsulteer [Molefe] mense binne politieke strukture…. Hy konsulteer die mense van die ANC.”
Montana het gesê geen raadsvoorsitter sal so ʼn ondersoek aanpak sonder om met die ANC in gesprek te tree nie. “Molefe het R50 miljoen op hierdie ondersoek spandeer. Hy kan dit tog sekerlik nie doen sonder om opdragte van die relevante politieke leierskap te kry nie,” het hy gesê.
Montana het bygevoeg dat die ANC tydens sy 2012 Mangaung-verkiesingskonferensie gesê het dat interne sake deur ʼn integriteitskommissie behandel sal word. “Ek verwag van my eie party om my na die integriteitskommissie te roep om myself te verdedig teen die ernstige aanklagte wat teen my gemaak is, maar ek is nooit geroep om dit te doen nie. Tog is daar ernstige en inkriminerende stellings gemaak dat ek skuldig en korrup is en ek dink dit het Popo Molefe laat dink hy kan voortgaan om te doen wat hy doen,” het Montana gesê.
Montana is in Junie verlede jaar afgedank na aanleiding van die R3,5 miljard tender-debakel waar nuwe diesellokomotiewe aangekoop is wat nie aan die standaarde van die Suid-Afrikaanse spoorwegstelsel voldoen nie.