Elizabeth Messias en Riaan Hunt (albei 34) het in die gespesialiseerde misdaadhof in Bellville voor landdros Sabrina Sonnenberg verskyn. Hulle het in Julie 2013 skuld erken op aanklag van uitbuiting, maar is eers Maandag aan korrupsie skuldig bevind. Hulle sal op 23 Februarie gevonnis word.
Volgens die klagstaat het die twee beamptes ʼn vragmotor in Augustus 2011 voorgekeer op soek na vervalste goedere. Hulle het toe op ʼn pakkie Cat onder die bestuurder se sitplek afgekom.
Messias het R1 500 by die bestuurder geëis om die pakkie aan hom terug te besorg en te voorkom dat hy vir dwelmbesit in hegtenis geneem word. Die bestuurder kon haar net R400 gee en sy het aangedring dat hy nog geld by sy werkgewer moet kry, maar dat hy aan sy werkgewer moet sê dat vervalste goedere in die vragmotor gevind is.
Die werkgewer het R8 000 omkoopgeld aangebied en het iemand in Durbanville gekontak om die geld na die beampte te neem. Die bestuurder het intussen nog R300 geleen en het dus R700 betaal om die dwelms terug te kry, terwyl die werkgewer R8 000 betaal het om te verhoed dat die vragmotor geskut word.
Drie maande later het Messias en Hunt dieselfde vragmotor voorgekeer en weer geld geëis, waarna die eienaar geweier het om te betaal en hulle by die polisie aangegee het. Hulle is kort daarna in hegtenis geneem.