Skaars vyf dae nadat ʼn hond wat aan ʼn menslike liggaamsdeel gekou het die Oos-Kaapse polisie na ʼn gru-toneel gelei het, is nóg ʼn ontbinde liggaam in die omgewing gevind.
Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê twee kinders het Vrydag omstreeks 10:00 in ʼn bebosde gebied langs ʼn rivier in Booysenspark in Bethelsdorp geloop toe hulle op ʼn erg ontbinde liggaam van ʼn onbekende man afgekom het.
“Die liggaam is in dieselfde omgewing naby die Damaskus-plaas gevind waar die ontbinde liggaam van ʼn tienermeisie verlede Maandag gevind is,” het Naidu gesê. “Die man se liggaam was in ʼn gevorderde fase van ontbinding. Sy identiteit kon nog nie vasgestel word nie. Hy het ʼn swart sweetpakbroek, rooi T-hemp en swart tekkies aangehad.”
Maroela Media het vroeër berig ʼn inwoner van Booysenspark het verlede Maandag op sy hond afgekom terwyl die hond besig was om aan ʼn mens se hand te kou.
Die inwoner het die polisie ontbied en ná verdere ondersoek is die erg ontbinde liggaam van ʼn tienermeisie omstreeks 11:00 in die digbebosde gebied naby die plaas gevind. Daar word vermoed dat dit die liggaam van Shannon Fourie (17) is, wat in Desember as vermis aangemeld is.
Naidu het gesê die twee voorvalle word nie in die stadium met mekaar verbind nie. “In die tienermeisie se geval word ʼn saak van moord ondersoek. Die oorsaak van haar dood is nog nie bekend nie. Ons wag nog vir die uitslae van DNS-toetse.”
In die man se geval word ʼn geregtelike doodsondersoek gedoen.