
Peter Rossouw de Klerk. Foto: rugby-talk.com
Peter Rossouw de Klerk, ʼn Suid-Afrikaanse rugbyspeler wat die afgelope tyd as voorspeler vir die Glasgow Warriors in Skotland uitgedraf het, is sy kontrak kwyt nadat hy ʼn 14-jarige skoolmeisie ontstel het.
Die Herald Scotland berig De Klerk (25), ʼn voormalige Blou Bul en Cheetah, het op 14 April die meisie by die Scotstoun-stadion in Glasgow genader, nadat hy ʼn geringe uitval met sy swanger vrou gehad het.
Die hof het gehoor dat hy met die meisie, ʼn atleet wat gereeld by die stadion oefen, gepraat en vir haar geglimlag het voordat hy minute later sy telefoonnommer vir haar op ʼn papiertjie gegee het. Hy beweer egter dat hy gedink het sy is 17. Hy het gesê die meisie het na iemand gelyk met wie hy vriendelik kan wees en gesels, maar dat hy dadelik spyt gevoel het nadat hy sy telefoonnommer vir haar gegee het.
Die meisie was geskok aangesien sy al ʼn paar jaar lank by die stadion oefen en nooit vantevore deur ʼn rugbyspeler genader is nie. Die meisie was verder ontsteld omdat De Klerk ten minste 10 jaar ouer is as sy. Sy het haar ma van die voorval ingelig en die Skotse rugbyunie is by die saak betrek.
De Klerk is aanvanklik van teistering aangekla, maar het die aanklag teengestaan. Hy het egter skuld beken op ’n aanklag van versteuring van vrede en die regter het die aanklag versag.
Die regter het gesê De Klerk het die status van ʼn rolmodel en het homself en sy span in die steek gelaat. Volgens die regter het hy niemand buiten homself om te blameer vir dié “roekelose en onnosele” daad nie.
Hy is met £675 (nagenoeg R13 700) beboet en sy kontrak, en gepaardgaande verblyf, met die Warriors is beëindig.
Michael Gallen, sy regsverteenwoordiger, het gesê De Klerk het berou oor die voorval en is deeglik bewus dat hy die meisie ontstel het.