Reddingspogings is tans aan die gang by die Lily-myn in Barberton in Mpumalanga nadat ʼn gedeelte van ʼn ondergrondse skag glo ineengestort het.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê daar word vermoed dat mynwerkers ondergronds vasgekeer is, maar minstens 49 myners is reeds na die oppervlak gebring. Tot dusver is daar nog geen ernstige beserings aangemeld nie, maar dit is nog nie duidelik of al die mynwerkers veilig is nie.
Brig. Selvy Mohlahla, woordvoerder van die polisie, het gesê die waarnemende bevelvoerder van die plaaslike polisie is tans op die toneel, maar geen inligting is in dié stadium bekend nie. Dit is ook nog nie duidelik of een van die skagte ineengestort het en of die voorval deur ʼn rotsstorting veroorsaak is nie.
Vantage Goldfields se streekskantoor het nie Vrydagoggend hul telefoon geantwoord nie.