Volgens die universiteit het 43 000 studente hul registrasie afgehandel en hul eerste studiepaaiemente betaal.
Mpho Letlape, die universiteit se visekanselier van strategiese dienste, het gesê die groot getal geregistreerde studente dui daarop dat die instansie se aanlyn registrasiestelsel behoorlik werk. Letlape het gesê meer as 5 000 nagraadse studente en 1 700 internasionale studente vorm deel van die groep wat geregistreer het.
“Dit is ʼn duidelike aanduiding dat die oorgrote meerderheid van die universiteit se studente en gemeenskap wil hê dat die nuwe akademiese jaar sonder oponthoud aan die gang moet kom, betyds en sonder onderbrekings,” het hy gesê.
Hy het gesê UJ het maatreëls in werking gestel om eerstejaarstudente te help om by die nuwe leeromgewing aan te pas. “Gedurende die eerste jaar word UJ-studente deur derde- en vierdejaarstudente wat akademies goed vaar, bygestaan. Die studenteraadgewers help ook eerstejaarstudente wat in die UJ-koshuise woon.”
Honderde studente landwyd het in Januarie aan die #FeesMustFall-betogings deelgeneem in protes teen registrasiegeld. Letlape het gesê studente wat steeds nie geregistreer het nie, het nog Vrydag tyd om dit aanlyn te doen.