
Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter
Met net meer as ‘n week oor voor sy staatsrede en presies ‘n week voor sy verskyning in die grondwetlike hof, het staatspresident Jacob Zuma ʼn opskudding veroorsaak deur aan te bied om ʼn gedeelte van die Nkandla-skuldlas terug te betaal.
Na uitgerekte parlementêre samesprekings en debatte, asook veldtogte van die ANC se opposisiepartye om die skuld te delg, is die verklaring Dinsdagaand laat vrygestel. Die president stel voor dat die grondwetlike hof die Ouditeur-Generaal aanstel om ‘n bedrag te bepaal wat hy sal moet terugbetaal vir opgraderings aan sy Nkandla woning wat nie met sekuriteit te make het nie.
Politieke analis en senior dosent aan die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU Vaal), dr. Ina Gouws, voel nie dat hierdie aankondiging die president se lewe enigsins makliker sal maak nie. Terwyl vele spekuleer dat die verklaring gemaak is met die oog op die Staatsrede wat volgende Donderdag plaasvind, dink Gouws dat hierdie aankondiging nie op die dag van veel waarde vir pres. Zuma sal wees nie.
“Hy hou dit voor as ‘n oplossing vir die probleem. Dit word egter nie so gesien nie,” het Gouws gesê. “Dit word gesien as ‘n manier om homself uit ‘n situasie in die grondwetlike hof te kry: uit ‘n konstitusionele krisis wat hy vir homself geskep het. Die EFF het weereens gedreig om die dag se verrigtinge omver te werp. Hierdie aankondiging en enige addisionele sekuriteitsmaatreëls sal die president nie help wat dit aanbetref nie. Ons is op ‘n punt waar die president se geloofwaardigheid net te veel skade gelei het.”
Gouws voer aan die rede vir hierdie aankondiging lê eerder by die president se verskyning in die grondwetlike hof. “Die EFF se regsaksie teen die president is geskeduleer om homself volgende week in die grondwetlike hof af te speel,” het sy verduidelik. “Die beslissing hiervan sal die Openbare Beskermer se woord, wet maak. ʼn Uitspraak van die grondwetlike hof teen die president, sal beteken dat die Openbare Beskermer se bevindinge in die toekoms bindend sal wees en uitgevoer sal moet word. Daarom het die EFF en UDM reeds verklaar dat die twee partye nie tevrede is met die president se aanbod nie en dat die regsproses sy gang moet gaan.”
Gouws meen wat hierdie aankondiging interessant maak, is dat dit daarop dui dat die druk uiteindelik so groot geraak het, dat die president maar moes toegee. “Dit beteken dat daar geledere binne die Nasionale Uitvoerende Gesag is wat wil hê dat hierdie saak dringend opgelos moet word. Veral met die verkiesing wat voorlê. Hulle is op verskeie vlakke, in verskeie areas, in die moeilikheid. Die ANC sal ten alle koste wil vermy om nog ‘n president te moet herroep,” het sy bygevoeg.
Volgens haar is daar binne die party verskeie onderstrominge en dit gaan nie goed met die party nie. “Na die laaste Legotla is daar duidelike faksies binne die party,” het sy gesê. “Sommige vir die president, vir Cyril Ramaphosa, die Jeugliga en Matthews Phosa wat weer terug is in die party. Dit word al hoe moeiliker vir diegene wat lojaal was aan die president, om so te bly.”