Die presidensie het Dinsdag gesê die voorbereiding vir die staatsrede, wat onder die tema “Saam beweeg ons Suid-Afrika vorentoe” gelewer sal word, is in volle gang. Die tema sal samewerking onder Suid-Afrikaners aanmoedig om ’n verenigde, demokratiese, nierassige, nierassistiese en vooruitstrewende Suid-Afrika te bou.
“As deel van die voorbereiding sal die president met die uitgebreide kabinet of lekgotla van vandag [Dinsdag] tot 5 Februarie in Pretoria vergader om die afgelope jaar in oënskou te neem en die prioriteite van die huidige jaar te bespreek,” het die presidensie gesê.
Die kabinet-lekgotla volg op die lekgotla van die regerende party wat vroeër in Januarie plaasgevind het. “Die regerende partye het 2016 verklaar as die jaar vir die bevordering van mense se mag: Plaaslike regering is in jou hande,” het die presidensie gesê.
“Gegewe die benarde ekonomiese situasie in die land, word daar verwag dat die lekgotla en staatsrede grootliks op die ekonomie sal fokus, veral die nasionale reaksie op die stadige ekonomiese groei en ’n hoogs beperkte fiskale omgewing.”
Zuma se 2015-staatsrede is deur verskeie rolspelers as “’n sirkus” bestempel nadat EFF LP’s hardhandig uit die parlement verwyder is toe hulle geëis het dat pres. Zuma verklaar wanneer hy die geld vir sy Nkandla-woning gaan terugbetaal. Die verwydering van die LP’s is voorafgegaan deur ʼn vertraging van verrigtinge nadat die selfoonsein in die parlement versper was en joernaliste nie inligting of berigte na buite kon stuur nie.