Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Nuuskommentaar: Gaan Wes-Kaap nou “bevry” word?

$
0
0

Grafika ter illustrasie

Grafika ter illustrasie

Die ANC-woelinge in die Wes-Kaap maak deel uit van ’n strategie om dié provinsie, soos die ANC dit stel, te bevry. Die proses is egter uiters kompleks, en Herman Toerien het oorsigtelik daarna gaan kyk.

Dit woel, wat die ANC betref, in die Wes-Kaap, die enigste provinsie wat dié organisasie nie op provinsiale vlak in die sakkie het nie, en ook op plaaslike vlak maar net die septer oor ’n paar “brak kolle” swaai.

DA-geleide koalisies is eerder aan die orde van die dag. Binnelandse besoekers spreek gereeld hul afguns uit oor hul ervaring om in gebiede te kom waar munisipale dienste behoorlik gelewer word soos dit moet.

Die Wes-Kaap is egter nie aldag ’n maklike provinsie om te regeer nie. Bendeverwante aktiwiteite, gepaardgaande met drank- en dwelmgewoontes, maak dat dié provinsie die hoogste moordsyfer in die land het. Die provinsie keer jaarliks die meeste dronkbestuurders aan, maar dis nie duidelik of dit weens die groot getalle dronkies op die pad is, en of dit weens beter wetstoepassing as elders in die land is nie.

Die provinsie, wat nie oor groot myne beskik nie, ervaar ’n groot instroming van mense – aanvanklik byna uitsluitlik uit die Oos-Kaap. Die ANC wou die stuipe kry toe na hulle as “ekonomiese vlugtelinge” verwys is. Nou kom hulle van oor die hele wêreld, met onder meer groot getalle Somaliërs wat hul stempel afdruk.

Die provinsie, met sy bruin meerderheid, was voorheen ’n bruin voorkeur-ontwikkelingsgebied, kompleet met ’n ontwikkelingskorporasie.

Die ANC het ’n termyn as bewindhebbende party in die Wes-Kaap beleef nadat die destydse NNP by die ANC aangesluit het. Na berig word, het bruin mense wat al lank onder brûe gewoon het skielik ervaar hoe hul name op waglyste vir wonings terugsak terwyl betreklik nuwe aankomelinge uit die Oos-Kaap voorkeur kry. Versoeke dat die waglyste so gepubliseer word dat ongerymdhede vasgestel en ondersoek kon word, het op dowe ore geval.

Hoewel die ANC se vastrapplek onder bruin kiesers geërodeer het, het die ANC steeds plek-plek ’n stewige houvas.

Nogtans het die dae vervaag toe die ANC in die Wes-Kaap deur prominente bruin persoonlikhede soos dr. Allan Boesak, eerw. Chris Nissen, prof. Jakes Gerwel en mnr. Trevor Manuel gerugsteun is.

Die man wat die vaandel vir die ANC onder bruin mense moes dra, is Marius Fransman. Hy het ná die NNP-amalgamasie ’n geval geword van meer Rooms as die pous wees. Hy het werklik sy bes gedoen om indrukwekkend as leier oor te kom, en stellig hard gewerk, maar het ook foute gemaak wat verhinder het dat hy die afgeronde statuur ontwikkel van die bruin leiers van ouds. Trouens, die persepsie dat hy eintlik vir die ANC ’n blok aan die been is, het wyd posgevat.

Terwyl die Wes-Kaapse ANC (waar ’n magstryd heers) nog kleigetrap het oor wat om met Fransman te maak nadat ’n klag van seksuele teistering teen hom aanhangig gemaak is, het Luthuli-huis ingegryp en is hy kantlyn toe geskuif. Ook die Wes-Kaapse ANC-sekretaris, Faiez Jacobs, is kantlyn toe geskuif nadat hy van aanranding op ’n ANC-werknemer aangekla is. Nou het die ANC die Wes-Kaapse ANC onder administrasie geplaas.

Of hierdie stap van die ANC in die Wes-Kaap enigsins daartoe gaan bydra om die provinsie te kan oorheers, sal die tyd leer.

Die ANC is in die proses immers nie van alle bruin leiers in die provinsie gestroop nie. Boonop stel die ANC ʼn hoë premie, soos voorheen ook al geblyk het, op die rol wat me. Jesse Duarte vanuit Luthui-huis kan speel om te keer dat bruin kiesers van die ANC vervreemd voel.

Die ANC staar egter ’n paar belangrike faktore in die gesig. Die belangrikste is stellig die ANC se beleid van nasionale demografie in sy “affirmative action”- (wat nie met regstellende aksie verwar moet word nie) aanstellings in die Wes-Kaap. Die DKD het immers ná bloedneuse in die howe telkemale hieroor geappelleer. Dit staan in die waterskeidingskonteks van Jimmy Manyi, eertydse regeringswoordvoerder, se berugte uitlating dat bruin mense in die Wes-Kaap oorverteenwoordig is. Eers nadat prominente bruin politici, soos Trevor Manuel, voet hieroor neergesit het, het die ANC halfhartig teruggekrabbel, maar dit het niks aan die praktyk verander nie.

Sedertdien is die ANC se lywige NUK byna volledig van bruin verteenwoordiging gestroop.

Selfs Tony Ehrenreich, provinsiale sekretaris van Cosatu, meet gereeld sy woorde versigtig hier af om verdere bruin vervreemding van die ANC te probeer voorkom.

Maar sonder bruin steun, sommer baie bruin steun, gaan die ANC die Wes-Kaap nie gou “bevry”, soos die beweging dit stel nie. Daar sal nog aansienlike getalle swart kiesers uit die Oos-Kaap moet migreer – dermate dat die ANC gereeld die idee opper om die Wes- en Oos-Kaap as een provinsie saam te smelt.

Hoewel setels in die provinsiale parlement nie met die komende verkiesing op die spel is nie, bied die komende munisipale verkiesing aan partye ’n belangrike geleentheid om hul voetwerk vir die volgende algemene verkiesing reg te kry. Die ANC sal graag nog vele munisipaliteite onder sy beheer probeer kry. Sy uitdaging gaan dan wees om dienste op dieselfde vlak te bly lewer sodat die strategie nie met die algemene verkiesing boemerang nie.

Die ANC het wel nog een kopsorg om op kort termyn uit te pluis, naamlik hoe om te maak met die prins van die Karoo, Truman Prince. Prince het reeds met die vorming van ICOSA getoon dat sy ondersteuners, en hulle is baie, deur dik en dun by hom staan. Sy kleurryke, omstrede geskiedenis verander niks hieraan nie. Die jongste bewerings teen Prince (tenderkierang en aanranding van ’n verkeerspolisievrou) is ernstig en behoort die laaste strooi te wees wat die kameel se rug breek.

Dit is egter duidelik dat die ANC eers deeglik gaan weeg en heroorweeg oor wat om met die geval Prince te doen.

Intussen moet die ANC die bal van illusies dat die hele saak niks met ras te make het nie, in die lug probeer hou. Die ANC het immers reeds duidelik getoon dat dit ras en rassisme hard as deel van sy verkiesingstrategie gaan gebruik, en veral enige denkbare ding wat die DA doen as rassisme gaan brandmerk en kritiseer. Die ANC moet darem minstens ’n poging probeer aanwend om nie te laat blyk dat dit self agter die deur staan nie (dit word met kwasi-ideologiese retoriek eerder as feite weggepraat), maar daardie vyeblare is reeds erg verweer.

Dit is jammer dat die stryd om Wes-Kaapse verkiesings hoogstens slegs deels om die regeerprestasies van die DA en DA-geleide koalisies sal handel. Tog gaan hierdie suksesse nie heeltemal ongesiens verby nie, en sal dit plek-plek elders in die land neerslag vind wanneer mense stembus toe opruk. Intussen moet die DA waak om in sy eie regskud nie meer vyande as vriende te maak nie. In die Wes-Kaap gaan dit by die stembus saak maak as hy ook bruin en wit kiesers vervreem.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!