Oudpres. FW de Klerk het ten sterkste ontken dat hy “leierskapklasse” aanbied vir Mmusi Maimane, leier van die DA.
“Daar steek geen waarheid in die bewerings dat ek vir Mmusi Maimane klas gee nie. Hy was nog nooit by my huis nie en het ook nog ooit vir my advies gevra oor hoe om toesprake te skryf of hoe om op te tree nie,” het De Klerk gesê in reaksie op ʼn berig in die Mail & Guardian.
“Ek het hom slegs een keer ontmoet in Maart 2015 toe hy [Maimane] ʼn hoflikheidsbesoek afgelê het.”
Die Mail & Guardian het Vrydag ʼn berig op sy voorblad gedra getiteld “Uproar over Maimane’s ‘lessons’ with FW”. “Terwyl rassespanning in die land toeneem, weier die DA-leier om kommentaar te lewer op wydverspreide bewerings in die party dat hy ‘leierskaplesse’ ontvang van apartheidsera-president De Klerk,” het die weeklikse koerant op sy voorblad berig.
Phumzile van Damme, woordvoerder van die DA, het die berig as onsin afgemaak. “Dit is heeltemal vals en ons verwag van die koerant om dit terug te trek.”
De Klerk het ook ontken hy het gesê swart mense “is meer rassisties as wit mense”. “Die berig wat hieroor verskyn het, is onwaar en die FW de Klerk-stigting doen stappe om dit reg te stel.”