
Argieffoto
Twee mans is Vrydag altesaam tot 70 jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle ʼn gesin van Durban aangehou en die gesin se 17-jarige dogter verkrag het.
Die twee het in die Verulam-streekshof verskyn.
“Sihle Biyela is tot 30 jaar tronkstraf gevonnis vir sy rol in die aanval op die gesin in 2013,” het Natasha Ramkisson, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, gesê. “Msawenkosi Gumede (29) is tot 40 jaar tronkstraf gevonnis.”
Ramkisson het gesê die twee mans was met vuurwapens gewapen toe hulle twee lede van die gesin buite hul huis in Phoenix gekonfronteer het. “Hulle het die egpaar met vuurwapens gedreig en hulle in die huis in gedwing waar die res van die gesin was. Biyela het die gesin aangehou terwyl Gumede die gesinslede een vir een na ander vertrekke in die huis geneem het en geld en ander waardevolle besittings geëis het,” het sy verduidelik.
Gumede het die onderskeie gesinslede aangerand en hulle gedwing om hul besittings uit te wys en hul selfone te oorhandig. “Die laaste persoon wat haar besittings uitgewys het, was die 17-jarige meisie, wat ook deur Gumede verkrag is.”
Die beskuldigdes het daarna die televisiestel, hoëtroustel, DVD-speler, klere en ander items in een van die gesin se voertuie gelaai en die man is met ʼn vuurwapen gedreig om saam met die beskuldigdes na die ingang van die Amaoti- informele nedersetting te ry waar Gumede en Biyela gebly het.
“Die twee mans is deur middel van vinger- en palmafdrukke en positiewe uitkenning met die misdaad verbind,” het Ramkisson bygevoeg. “Hulle is albei skuldig bevind op vyf aanklagte van roof met verswarende omstandighede en ontvoering, en Gumede is ook skuldig bevind aan verkragting.”
Gumede sal waarskynlik die res van sy lewe agter tralies deurbring. Ramkisson het gesê hy is verlede jaar in Julie in die Durbanse hooggeregshof skuldig bevind op ander aanklagte van verkragting en rooftogte wat tussen 2004 en 2012 plaasgevind het. Hy is in daardie stadium tot drie keer lewenslange tronkstraf gevonnis en in nog ʼn hof tot 107 jaar tronkstraf.