Samantha Slabbert (9) wat Vrydag tydens ʼn sportdag by die Laerskool Unie in Klerksdorp ontvoer is, is Donderdagmiddag veilig opgespoor.
Michelle Peach, ʼn senior maatskaplike werker van die SAVF Rethabile-kinder-en-jeugsorgsentrum in wie se sorg Slabbert geplaas is voordat sy verdwyn het, het aan Maroela Media bevestig dat sy in Kaapstad opgespoor is.
“Sy is veilig in Distrik Ses gevind. Die polisie het haar daar in die sorg van ʼn Kaapstad-tak van die SAVF geplaas. Ons bestuurder, Anita Kent, is nou op pad om haar te gaan haal. Die Kaapstad-tak sal sorg dat Samantha halfpad gebring word. Ons sal môreoggend meer inligting kan gee sodra sy veilig in ons sorg is.”
Maroela Media het by ʼn betroubare bron verneem dat ʼn vrouefamilielid in hegtenis geneem is.
Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het aan Maroela Media bevestig dat die meisie gevind is. “Die omstandighede rondom die saak is in ʼn sensitiewe stadium en word nog ondersoek. Meer inligting kan dus nie in die stadium bekend gemaak word nie,” het hy gesê.
Maroela Media het vroeër berig Samantha is Vrydag deur ʼn man by Laerskool Unie, waar sy skoolgaan, opgelaai. Sy ken glo die man. Sy het sportdrag van die skool aangehad toe sy die laaste keer gesien is. Samantha het donkerbruin hare, donkergroen oë, weeg 28 kg en is 1,4 m lank.
Samantha is verlede jaar deur die kinderhof in die SAVF se sorg geplaas hangende die uitkoms van ʼn finale aanbeveling van dié hof.
Die SAVF het die saak by die polisie aanhangig gemaak nadat dit aan die lig gekom het dat sy moontlik ontvoer is. Hoewel inligting oor kinders in sulke gevalle in terme van die Kinderwet nie in die media bekend gemaak mag word nie, het die SAVF ʼn hofbevel by die kinderhof bekom om inligting oor haar te versprei in ʼn poging om haar so gou moontlik op te spoor.