Altesaam 220 paddas van twee spesies word by die Nasionale Dieretuin in Pretoria versorg nadat dit Woensdag by die OR Tambo-lughawe onderweg na Taiwan onderskep is.
Tracy Rehse, diereversamelingsbestuurder by die dieretuin, het gesê die departement van omgewingsake het die paddas onderskep.
“Ons het 80 jong brulpaddas ontvang wat min of meer die grootte van ʼn 50c-munt is,” het Rehse gesê. “Ons het ook 150 reënpaddas ontvang. Ongelukkig het tien gevrek omdat daar glo iets fout was met die plastiekhouertjies waarin hulle vervoer is.”
Die paddas is Donderdag uit die klein houers na groter houers oorgeplaas. Volgens Rehse het die departement van omgewingsake die paddas by die lughawe verwyder omdat daar probleme met die uitvoerpermitte na Taiwan was.
“Ons wag nog om te hoor wat ons met die paddas moet doen. Ons gaan poog om hulle in die veld vry te laat, mits hulle nie siektes het nie,” het sy gesê. “Die moontlikheid bestaan ook dat hulle teruggegee gaan word aan die eienaar of die uitvoerder, hangende die departement se ondersoek.”

