Die Limpopo-polisie is besig met ʼn geregtelike doodsondersoek nadat ʼn 11-jarige seun tydens ‘n atletiekdag by ʼn laerskool in Musina dood is.
Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê die voorval het verlede Woensdag by Gateway Primary plaasgevind.
“Daar was ʼn atletiekdag by die skool en ʼn onderwyser het ʼn groep kinders gestuur om atletiekspiese te gaan haal,” het Otto gesê. “Die oorledene, Marlon Mukwevho, was een van dié kinders.”
Marlon het na bewering die spies hanteer toe hy homself per ongeluk in die bors gesteek het.
“Hy het na die onderwyser gegaan en vertel wat gebeur het. Die onderwyser het ʼn bloedkol op sy hemp gesien en hy is na ʼn nabygeleë mediese sentrum gehaas.”
Die seun het by die sentrum aan sy besering beswyk. Die dokter wat hom behandel het, vermoed die spies het sy long raakgesteek. Die polisie se ondersoek duur voort.
Dr. Naledzani Rasila, woordvoerder van Limpopo se departement van onderwys, het aan Maroela Media gesê wat by die skool gebeur het, is betreurenswaardig. “Om ʼn leerling te verloor, is altyd hartseer en altyd een dood te veel,” het hy gesê. “Ons ondersteun die polisie in hul ondersoek en as dit afgehandel is, sal ons die nodige stappe neem as dit aan die lig kom dat iemand nalatig was.”