Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het gesê die nasionale uitvoerende komitee (NEC) se lekgotla het beklemtoon die ANC kan die probleme in die land konfronteer.
“Vanjaar moet ons pogings daarop fokus om die voordele van die “Terug na die Grondbeginsels”-program te konsolideer en sodoende groeiende en volhoubare plaaslike ekonomieë te skep. Die ANC is vol vertroue dat ons al die metropolitaanse munisipaliteite wat ons tans regeer, sal behou en ons sal veg om die Stad Kaapstad te wen,” het Matashe Woensdag gesê.
Die NEC se lekgotla is oor drie dae gehou. Mantashe het gesê werkskepping en volhoubaarheid is sleutelprioriteite vir die ANC. “Ons aanvaar die uitdagings wat spruit uit ʼn wêreldwye swak ekonomiese klimaat, die druk op ontluikende markte en sukkelende ekonomiese groei en weet beduidende optrede word van die regering verwag om die ekonomie inklusief te laat groei en die moontlikheid van ʼn kredietafgradering te vermy.”
Mantashe het die DA gekap oor hul optog teen werkloosheid in die Johannesburgse sakesentrum Woensdag en het gesê die opposisieparty is nie gepla met werkskepping nie.
“Hulle is nie bekommerd oor werk nie, hulle beskerm bloot kapitaal. As hulle regtig op werk gefokus het, sou hulle na die Kamer van Mynwese en Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel gestap het en gesê het, ‘Julle besit 70% van die ekonomie; julle moet duidelike programme vir werkskepping hê’,” het Mantashe gesê.
Die NEC het ook breedvoerig gedebatteer oor die onlangse opkoms van rassisme en die feit dat rassistiese individue skynbaar meer gewaagd raak in die Suid-Afrikaanse samelewing. Die party het weereens sy historiese missie beklemtoon om ʼn gelyke, nie-rassige, nie-seksistiese, demokratiese en vooruitstrewende samelewing te skep.