
Oscar Pistorius tydens sy moordverhoor in die hof. Foto: Daniel Born/The Times/ SAPA
Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius het nog nie besluit hoe om te reageer ná die besluit dat sy beplande vrylating uit die tronk uitgestel is nie, het sy woordvoerder Donderdag gesê.
“Ondanks dit wat in die media berig word, is daar nog nie enige besluit geneem nie, en die gesin sal tyd spandeer om rustig oor die pad vorentoe te besluit,” het Anneliese Burgess gesê.
Michael Masutha, minister van justisie, het Woensdag aangekondig dat hy die paroolhersieningsraad van die departement van korrektiewe dienste versoek het om die besluit, om Pistorius uit die Kgosi Mampuru II-korrektiewe sentrum vry te laat, te hersien. Pistorius het dan een sesde van sy vyf jaar tronkstrafvonnis uitgedien. Hy is skuldig bevind aan strafbare manslag nadat hy Reeva Steenkamp in 2013 doodgeskiet het.
Masutha het gesê dit het onder sy aandag gekom dat ʼn veroordeelde persoon minstens een sesde van sy vonnis moet uitdien voordat hy vir korrektiewe toesig in aanmerking kom. “Dit is dus duidelik dat die besluit om hom op 21 Augustus 2015 vry te laat, voortydig op 5 Junie 2015 geneem is toe hy nog nie in aanmerking kon kom vir korrektiewe toesig nie.”
Die minister het bevestig dat hy op 17 Augustus ʼn petisie van die Progressive Women’s Movement of South Africa (PWMSA) waarin hulle hul teenkanting teen die vrylating uitgespreek het. Die groep het ʼn beroep op Masutha gedoen om Pistorius nie tydens Vrouemaand vry te laat nie.
Die minister het dit benadruk dat die petisie self nie wettige gronde is om Pistorius se vrylating uit te stel nie, maar dit het die behoefte gewek om die besluit van die paroolraad te ondersoek.
Lees alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media.