Die 54-jarige man is doodgeskiet, maar daar is steeds teenstrydige berigte oor wie hom geskiet het.
Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die man is deur ʼn vermeende inbreker geskiet en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die gemeenskapspolisiëringforum (GPF) van Richardsbaai het egter ʼn ander weergawe van gebeure op sy Facebook-blad gedeel.
Volgens die GPF het ʼn inbreker by ʼn hele aantal huise in die buurt ingebreek voordat ʼn plaaslike veiligheidsmaatskappy en die bure in kennis gestel is. Die inbreker is agternagesit en hy is glo ernstig beseer toe hy in die kop geskiet is.
Die GPF beweer verder die verdagte het in ʼn stadium in ʼn huis weggekruip en ʼn skoot is deur een van die inwoners in sy rigting afgevuur. Die skoot het egter per ongeluk die 54-jarige man getref wat op die toneel dood is.
Die vermeende inbreker het glo probeer vlug, maar het in die straat inmekaargesak waar iemand hom opgetel en na ʼn plaaslike kliniek geneem het. Hy is daar na bewering deur GPF-lede gevind wat hom geïdentifiseer het as die man wat hulle agternagesit het.
Volgens die GPF is die inwoner wat die skoot afgevuur het sowel as die verdagte deur die polisie ingeneem vir ondervraging. Zwane hou egter vol niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Anton Wulff, die takbestuurder van Votella Security in Richardsbaai, was ook betrokke by die jaagtog en het gesê dit het ongeveer 40 minute geduur en oor 13 of 14 erwe gestrek. Wulff beweer hy was teenwoordig toe die 54-jarige man geskiet is en het gesê die man het sy vrou beskerm toe die koeël hom getref het.
Wulff het ook gesê die inwoner wat die skoot afgevuur het, is deur die polisie in aanhouding geneem.