
Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, tydens die Staatsrede in 2012 Foto: Departement van kommunikasie
“Patricia het met ʼn oorweldigende meerderheid gewen,” het Mmusi Maimane, die partyleier, gesê en na De Lille as ʼn vriendin en gesoute politikus verwys.
Maimane se aankondiging van De Lille se suksesvolle kandidaatskap is bekendgemaak nadat die DA met verskeie kandidate vergader het om hul opsies te oorweeg. De Lille het vier minder bekende mededingers uitgestof, naamlik Guy Andrews, Daniel Jacobs, Peter Meakin en Ursula Schenker. Schenker is waarskynlik meer bekend vir haar werk onder die stad se senior burgers.
De Lille was die eerste vrouelid van die parlement om haar eie politieke party te begin. Oudpres. Nelson Mandela het na haar verwys as ʼn “beginselvaste vrou” en sy gunsteling politieke teenstander.
De Lille is tydens die plaaslike verkiesings in 2011 tot die burgemeester van Kaapstad verkies. In 2013 het sy die titel as die wêreld se beste burgemeester gewen.
De Lille was onlangs midde-in omstredenheid gedompel rakende een van haar raadslede, Sam Pienaar. Pienaar, ʼn kolonel in die apartheidsweermag se burgermag, het in 1997 aan die Kommissie vir Waarheid en Versoening erken dat hy deel was van die beplanning van die sogenaamde Trojaanse perd-bloedbad waartydens drie jongmense van die Kaapse Vlakte naby Athlone vermoor is. Hy het egter gesê die soldate onder sy bevel was nie by die moorde betrokke nie.
Die kommissie het bevind Pienaar was betrokke by die beplanning van ʼn ernstige oortreding, maar hy is nooit vervolg nie. De Lille het gesê toe Pienaar in 2011 ʼn raadslid geword het, het die verantwoordelikheid by hom gelê om sy verlede te openbaar.
Volgens De Lille het Pienaar nooit sy apartheidverlede bekendgemaak nie. Die DA het intussen ʼn kennisgewing aan Pienaar uitgereik. Hy sou na verwagting teen Maandagmiddag uit die party geskors wees.