Quantcast
Channel: Nuus | Maroela Media
Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

MRK se verslag oor plaasmoorde bekend

$
0
0

Argieffoto: AfriForum Jeug

Argieffoto: AfriForum Jeug

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het Donderdag ’n verslag oor aanvalle en moorde in landelike gebiede bekend gestel.

Die verslag kom ná afloop van die openbare verhore wat in 2014 deur die MRK gehou is oor aanvalle en moorde op plase. Die MRK het in die verslag sy kommer uitgespreek oor geweld in landelike gebiede en plaasmoorde.

Die MRK het die volgende aanbevelings gemaak:

1. Die kommissie gee toe dat indien geweld in landelike gemeenskappe op ʼn omvattende manier aandag kry, die menseregte van alle van lede van die gemeenskappe verskans en gehandhaaf sal word. Die kommissie sal veiligheid in landelike gebiede op sy nasionale menseregte-agenda behou en sal gesprekvoering tussen die onderskeie rolspelers aanmoedig.
2. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet baie meer doen in die stryd teen misdaad in landelike gebiede.
3. Die kommissie is bewus daarvan dat daar in seker gevalle rassistiese ondertone is tydens voorvalle van geweld op plase. Die kommissie stel voor dat daar spesifiek aandag gegee word aan rasseverhoudings in landelike gebiede en dat negatiewe stereotipering aandag moet kry.
4. Verskeie aanbevelings word gemaak ten opsigte van voortgesette navorsing oor plaasaanvalle en -moorde.
5. Die kommissie beveel aan dat daar ’n standaard moet wees omtrent die behuising wat aan plaaswerkers en -bewoners verskaf word.
6. Die SAPD se Landelike Veiligheidstrategie moet hersien word en die SAPD moet verskeie praktiese stappe implementeer, waaronder die organisering van ’n nasionale spitsberaad oor plaasveiligheid. (Die MRK het hierdie aanbeveling reeds in 2008 vir die eerste keer gemaak, maar die SAPD het versuim om dit uit te voer.)
7. Gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) moet by misdaadvoorkomingstrategieë betrek word en ’n meer geformaliseerde verhouding moet tussen GPF’s en Landelike Veiligheidsprioriteitskomitees gevestig word.
8. ’n Spesiale subkomitee moet in die geregtigheid-, misdaadvoorkoming- en veiligheid-sektor (JCPS) se voorkeurkomitee geskep word met die doel om ’n aksieplan vir die hantering van misdaad in landelike gebiede te ontwikkel en die uitvoer van aktiwiteite ten opsigte van landelike veiligheid deur die onderskeie staatsdepartemente te monitor.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het intussen die verslag verwelkom. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê hoewel die organisasie sekere voorbehoude oor die detail van die verslag het, is die aanbevelings wat daarin deur die MRK gemaak word, konstruktief.

Ernst Roets. Foto: Reint Dykema.

Ernst Roets. Foto: Reint Dykema.

“In die eerste plek moes ons nooit in hierdie situasie beland het nie. Plaasmoorde is al sedert die vroeë 1990’s ’n krisis en die voortbestaan van hierdie krisis kan toegeskryf word aan die regering se lamsakkige houding daaroor. Ons is egter van mening dat, indien die aanbevelings wat in die verslag gemaak word met die nodige erns deur die onderskeie staatsdepartemente uitgevoer word, dit ’n wesenlike verskil kan maak om die krisis hok te slaan.”
Roets het bygevoeg dat daar bepaalde elemente van die verslag is waaroor AfriForum sy voorbehoud wil uitspreek. Dit sluit onder meer die volgende in:

• Die MRK het reeds in 2003 en 2008 bepaalde aanbevelings in hierdie verband gemaak, wat nie deur die regering uitgevoer is nie. Die sogenaamde teenwigte om regeringsversuim te takel, is nie sterk genoeg nie en die sukses van hierdie poging hang tot ’n groot mate af van die suksesvolle uitvoering deur die regering.
• Die kwessie van rassespanning en rassisme tydens plaasmoorde word op ’n oorvereenvoudigde wyse aangebied.
• In die verslag word daar onder meer aanbeveel dat boere meer gereeld toegang tot hulle grond aan die regering moet bied. AfriForum is van mening dat hierdie aanbeveling nie genoegsaam teen die grondwetlike regte op privaatheid en die besit van private eiendom opgeweeg word nie en dat só ’n aanbeveling deur staatsamptenare misbruik kan word.
• Die regte, hantering en ondersteuning van slagoffers moet op ’n baie meer omsigtige wyse benader word. Die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling se sogenaamde Victims Charter wat tans van toepassing is, dek slegs drie soorte misdade. Dit moet aangepas en uitgebrei word om alle misdade in te sluit.

Roets het bygevoeg dat AfriForum sal voortgaan met sy veldtog vir die prioritisering van plaasmoorde.

Klik hier vir die volledige verslag.

Klik hier vir ’n ontledingstuk oor die verslag.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 56621

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!