Die R71 tussen Namakgale en Phalaborwa in Limpopo is weer gesluit aangesien gewelddadige betogings kort-kort in die gebied opvlam.
Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het Woensdag gesê die situasie in die gebied is steeds erg gespanne en onvoorspelbaar. “Gisteraand [Dinsdagaand] het inwoners die pad versper en talle voertuie is beskadig deur mense wat klippe gegooi het,” het sy gesê.
“Nog ʼn voertuig is aan die brand gesteek, maar niemand is in die voorval beseer nie. Berigte is ook ontvang van spaza-winkels wat geplunder en gebrand is, maar ons kon hierdie inligting nog nie bevestig nie omdat die paaie na die nedersetting versper is en polisielede nie in die area kan kom nie.”
Volgens Otto probeer polisiebeamptes en lede van die verkeersdepartement om die pad op te ruim, maar die betogers bemoeilik die proses.
Sy het vroeër gesê inwoners is ontevrede met tradisionele leiers in die gebied.


