
Argieffoto van ‘n swartpunthaai ter illustrasie Foto: AFP/AFP/GETTY IMAGES
Natuurlewebeamptes probeer steeds vasstel hoe ʼn haai in ʼn swembad by ʼn meenthuiskompleks in Florida beland het.
Die South Florida Sun Sentinel het berig beamptes van die Florida Vis- en Natuurbewaringskommissie is na die Mariner’s Cay-kompleks in Hypoluxo ontbied nadat ʼn vrou die 1.5 meter lange swartpunthaai in die swembad aangetref het.
Nicole Bonk het aan die beamptes gesê sy het gesien hoe twee jong mans van die swembad, wat naby die kuslyn geleë is, weghardloop. Die beamptes het die haai uit die swembad gehaal en hom weer in die see teruggeplaas.
Volgens Bonk het die twee seuns gaan visvang en die haai as ʼn grap in die swembad gegooi. “Hulle het die haai in die swembad gelos om dood te gaan. Ek dink hulle is vreeslike kinders, want dit is dieremishandeling,” het sy gesê. “Ons het probeer om hom te red, maar hy het dit moontlik nie gemaak nie. Hy het skaars beweeg ná die trauma. Ons het ons bes probeer om hom te red.”
Kringtelevisiebeeldmateriaal van Mariner’s Cay word ondersoek.
Swartpunthaaie is een van die algemeenste spesies in die suide van Florida.