
Die “Zuma must fall”-plakkaat wat op 15 Januarie 2016 in Kaapstad opgerig is Foto: Twitter
Die ANC het Sondag ʼn beroep gedoen op alle Suid-Afrikaners om ʼn “oorlog teen rassisme te verklaar” en dat politieke partye hulself daarvan sal weerhou om demokrasie te ondermyn.
Zizi Kodwa, woordvoerder van die ANC, het gesê die “oningeligte versoek” dat Zuma uit sy amp verwyder moet word deur die “Zuma must fall”-veldtog is “ʼn poging om die aandag af te lei van die ware gesprek oor rassisme wat uitdrukking vind in kommentaar deur ʼn minderheid wat aan ʼn sekere party behoort en daarop gefokus is om die onmoontlike terugkeer na ʼn rassistiese verlede te bereik”.
“Dit is elke Suid-Afrikaner, en veral politieke groeperinge, se verantwoordelikheid om die vlaag van rassisme, wat ons land in die oë van ander lande ʼn uitgeworpene en ʼn simbool van agterstevoorom rassebetrekkinge gemaak het, te ondermyn,” het hy gesê. “Dit is duidelik dat hierdie veldtog, wat privaat deur spesifieke groeperinge geborg is, slegs die samelewing kan verdeel en dit sal tot gespanne verhoudings onder ons mense lei. Laat ons in ons verskeidenheid ons demokratiese beginsels en praktyke omhels. Ons versuim om nou suksesvol te wees sal daartoe lei dat mense, wat eendag hierop sal terugkyk, sommige van ons sal veroordeel.”
Kodwa het gesê dit is duidelik dat Suid-Afrikaners nie vreemde gedrag sal duld van diegene wat probeer om die struggle, waarvoor daar lank gewerk is, ongedaan te maak nie. “Ons moedig persone aan om aktief standpunt in te neem teen rassisme en diegene wat ons demokratiese waardes wil afwater.”