
Argieffoto van ‘n SanParke-helikopter Foto: The Amandzing Way
Een van die Krugerwildtuin se helikopters het ʼn noodlanding gedoen nadat die enjin probleme gegee het.
“Drie beamptes van die wildtuin was Dinsdag in die helikopter op soek na twee renosters wat buite die park wes van Orpenhek gedwaal het,” het Glenn Phillips, uitvoerende bestuurder van die wildtuin, in ʼn verklaring gesê. “Die renosterkoei en haar kalfie is buite die park opgemerk en ʼn helikopter is ontbied om die diere op te spoor om inligting te verskaf aan die span op die grond.”
Die span was glo nog besig om na die renosters te soek, toe die helikopter skielik krag verloor het en die enjin onklaar geraak het. “Die vlieënier is gedwing om dadelik ʼn noodlanding te doen,” het Phillips bygevoeg. “Hy het dit suksesvol gedoen sonder dat enigiemand beseer is of enige verdere skade aan die helikopter aangerig is.”
Phillips het gesê hulle is dankbaar dat hul werknemers veilig is en dat niemand beseer is nie. “Ons is ook dankbaar dat die span op die grond die renosters kon opspoor en kon seker maak dat hulle weer veilig terugkom park toe.”
Hy het gesê ʼn spesiale vermelding word gemaak vir die vlieënier wat onder noodtoestande veilig kon land.
Die helikopter word ondersoek om die oorsaak van die enjinprobleme op te spoor.