
Caden Slabbert Foto: Krugersdorp Voice
Die operasie waartydens ʼn spesiale titaan-metaalplaat in Caden Slabbert (9) se kop geplaas is, nadat hy met ʼn baksteen getref is, was suksesvol.
Die Krugersdorp Voice berig die operasie het in die Netcare Union-hospitaal in Alberton plaasgevind.
Caden is beseer toe hul motor verlede jaar op 30 April op die N12 naby die Glen-winkelsentrum deur ʼn baksteen getref is. Hy was saam met sy pa, Justin Slabbert, en sussie Eden in die motor op pad na hul huis in Benoni. Die persoon wat die baksteen gegooi het, is nooit vasgetrek nie. Die moontlikheid word egter tans ondersoek of ‘n man, wat Woensdag in hegtenis geneem is, verbind kan word met die voorval.
“Ek wil nou net van blydskap huil!” het Andriëtte Cooper, Caden se ma, aan die gemeenskapskoerant gesê oomblikke nadat hy uit die teatersaal gestoot is. “Die operasie was ʼn sukses! Ons wag nou net om van die neuroloog te hoor, maar als is reg.”
Caden het glo vroeër geskerts dat sy kop nou “so sterk soos staal” gaan wees wanneer die metaalplaat ingeplant is.
Sodra hy van die operasie herstel het, sal hy na die hoësorgeenheid oorgeplaas word. Die kans vir infeksie is egter groot, aangesien ʼn vreemde voorwerp nou in die plek van sy skedel geplaas is, en moontlik deur sy liggaam verwerp kan word.
Lees alle vorige berigte oor Caden Slabbert op Maroela Media.
Volg die Krugersdorp Voice se Facebook-blad vir opvolgberigte oor Caden.