
Argieffoto (Foto: Stevepb, Pixabay)
Pres. Jacob Zuma het nie eensydig opgetree toe hy die belastingwetsontwerpe wat met pensioen- en voorsorgfondse verband hou, onderteken het nie, het die presidensie Vrydag gesê.
Dit kom nadat Cosatu Woensdag in ʼn verklaring teen die president uitgevaar het deur te sê die vakbond was “woedend en teleurgesteld” om te verneem dat Zuma die Wysigingswet op Belastingadministrasie onderteken het.
Volgens Cosatu sal die wet ʼn uiters negatiewe impak op die verhouding tussen die regering en werkers hê. “Hierdie optrede van minagting deur die regering, sal ʼn gepaste en gelyke reaksie by die werkers ontlok. Werkers sal enige pogings, om die verpligte bewaring van ons swaarverdiende pensioengeld in te stel, teenstaan. Geen regering het die reg om eensydig vir die werkers te besluit hoe en wanneer hul aftrede-spaargeld gebruik moet word nie,” het Cosatu gesê.
Die vakbond het gesê werkers se pensioengeld moet beskikbaar wees wanneer hulle dit nodig het, aangesien Suid-Afrika nie ʼn omvattende maatskaplike stelsel in plek het nie. “Hierdie is aanduidend van ʼn regering wat te veel mag vir homself toegeëien het en nie meer glo hy is aan sy mense verskuldig nie,” het Cosatu bygevoeg.
Die presidensie het intussen beklemtoon dat die wysigingsontwerp in die parlement bespreek en aanvaar is en deur die nasionale raad van provinsies goedgekeur is nadat openbare besprekings daaroor gehou is.
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, het aan Maroela Media gesê as hy noodgedwonge sy mening oor die nuwe wetsontwerp moes uitspreek, sal hy sê dit is ʼn goeie ding, omdat dit onverantwoordelike mense sal help om te spaar. “As mens egter filosofies dink, ontneem dit ʼn mens se reg om sy eie besluite te neem en dalk foute te maak,” het hy gesê. Hy het ook gesê rooi ligte kan flikker, want die wet gee politici meer geleentheid om hul “vingers in goudpotte” te druk en hy vermoed ander wysigings aan die belastingwet sal binnekort volg.
Paul Joubert, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut het aan Maroela Media ʼn kort opsomming verskaf oor die nuwe wette wat die president geteken het. Maroela sal binnekort ʼn volledige inligtingstuk hieroor publiseer. Volgens Joubert is daar geen rede om jou werk weens hierdie nuwe wette te bedank nie.
1. Die belastingaftrekbaarheid van bydraes tot voorsorgfondse (“provident funds”) gaan verbeter word (behalwe vir mense wat meer as R1,27 miljoen per jaar verdien). Dit beteken dat baie mense meer geld in hul sakke gaan kan steek aan die einde van die maand – hoër “take home pay”.
2. Daar word niks verander aan die uitbetaling van pensioenfondse (“pension funds”) met aftrede nie.
3. Daar word niks verander aan mense se vermoë om, indien hulle hul werk verloor, hul aftree-spaargeld te kan ontvang nie.
4. Daar word niks verander aan geld wat mense reeds voor 1 Maart 2016 in hul aftreefondse gespaar het nie.
5. Vir mense wat teen 1 Maart 2016 jonger as 55 is, word nuwe bydraes tot voorsorgfondse vanaf 1 Maart 2016 anders as voorheen behandel met aftrede. Voorheen kon die volle bedrag as ʼn “lump sum” geneem word, maar nou sal net ʼn derde van die geld as ʼn “lump sum” geneem kan word en die ander twee derdes sal in ʼn annuïteit van die persoon se keuse belê moet word. Indien die volle bedrag wat ná 1 Maart 2016 in die voorsorgfonds gespaar is, egter minder as R247 500 is, sal die volle bedrag steeds as ʼn “lump sum” geneem kan word.