
Argieffoto
Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan ʼn versoek aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens rig om die bevoegdheid van polisiebeamptes om vuurwapens te dra, te ondersoek.
Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, dui die interne-ouditverslag (2012) van die polisie daarop dat verskeie beamptes nie bevoeg is om vuurwapens te dra nie. “Dit stel nie net polisiebeamptes in gevaar nie, maar hou ook ʼn bedreiging vir landsburgers se veiligheid in,” het hy gesê.
Cameron het gesê hulle gaan die aansoek aan lt. genl. Khomotso Phahlane, waarnemende kommissaris van die polisie, rig ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting. “Ons wil vasstel watter persentasie van operasionele polisiebeamptes wel bevoeg is om vuurwapens te dra,” het Cameron gesê.
“Die verslag maak onder meer melding daarvan dat tot 27 329 (17%) van polisiebeamptes landwyd onbevoeg is om vuurwapens te dra, met 7 578 (47%) van Oos-Kaapse-polisiebeamptes wat onbevoeg is om vuurwapens te hanteer, of nog nie daarvoor opgelei is nie,” volgens Cameron.
Volgens die verslag is 6,85% van die Wes-Kaap se polisiebeamptes nog nie bevoeg om vuurwapens te hanteer nie, 3% van die beamptes is as nie-opleibaar verklaar is en 11% het nog nie hul opleiding voltooi nie.