
Boeta van der Westhuizen (links), Johan Cilliers sr., Johan Cilliers jr. en Anton Loggenberg in die beskuldigdebank. Foto: Mariné Jacobs
Landdros Leshni Pillay het borgtog van R5 000 elk aan Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Johan Cilliers sr. en sy seun, Johan Cilliers jr. toegestaan. Pillay het gesê hoewel dit hartseer is dat twee mense dood is, daar geen bewyse voor die hof is dat die vier beskuldigdes by die saak betrokke was nie en kan hulle dus nie verder aangehou word nie. Sy het gesê sy is teleurgesteld oor die manier waarop die saak deur die polisie hanteer is.
Van der Westhuizen is deur adv. Gideon Mandelstam verteenwoordig, Cilliers sr. en jr. is deur Danie Swanepoel verteenwoordig en Loggenberg is deur Kobus Burger verteenwoordig. Adv. Sandile Mthethwa het vir die staat opgetree.
Ao. Isaac Tshabalala, die ondersoekbeampte, is as getuie geroep om te besluit of die beskuldigdes op ʼn skedule vyf of ses aanklag tereg moet staan. Tshabalala het getuig dat die polisie op Woensdag 6 Januarie na ʼn plaas ontbied is waar twee vermeende plaasaanvallers glo deur boere in die omgewing vasgetrek is. Die oorledenes het glo Lodewyk van der Westhuizen, Boeta se pa, in sy huis oorval en probeer beroof. Van der Westhuizen het glo die paniekknoppie gedruk en die vermeende aanvallers het op die vlug geslaan.
Volgens polisiebeamptes wat eerste op die toneel was, het hulle ʼn groep boere by die vermeende aanvallers aangetref nadat hulle die aanvallers vasgetrek het. Die aanvallers was erg beseer, hul gesigte was geswel en een het “krapmerke oor sy gesig gehad asof hy gesleep was”, het hy gesê. Nie een van die oorledenes kon in daardie stadium meer praat nie, het hy gesê.
Tshabalala het onder kruisondervraging erken dat polisiebeamptes op die toneel gesê het daar was ʼn groot groep boere op die toneel, maar dat ʼn klomp weggery het toe die polisie daar aangekom het. Die vier beskuldigdes het egter op die toneel agtergebly.
Die verdediging het Tshabalala gevra of daar enige bewyse was dat die groep of die vier beskuldigdes vir die oorledenes se aanranding verantwoordelik was en hy het gesê die feit dat hulle op die toneel was, het tot hul inhegtenisneming gelei. Die verdediging het dit aan die hof gestel dat die beskuldigdes onregmatiglik in hegtenis geneem is aangesien daar geen bewyse was om hulle met die moord te verbind nie, maar Tshabalala het dit ontken.
Tshabalala het aan die hof gesê die polisie is steeds besig met sy ondersoek en dat hy veral op soek is na ooggetuies om te getuig. Hy het egter nog geen ooggetuies opgespoor nie, het hy gesê.
Volgens Tshabalala was die oorledenes voormalige werknemers van Boeta van der Westhuizen en het hy hulle geken. Die oorledenes is intussen geïdentifiseer as Samuel Tjixa en Simon Jubeba.
Die beskuldigdes moet weer op 12 Februarie in die hof verskyn.
Klik hier vir alle vorige berigte oor die Parys-boere op Maroela Media.