
Argieffoto
ʼn Vrou in haar 60’s is oor die naweek in Zimbabwe, ʼn paar kilometer buite Victoria Falls, dood nadat ʼn leeu haar verskeur het.
Die staatsbeheerde Sunday News het berig die vrou was Saterdag deel van ʼn groep inwoners wat bymekaargekom het om die karkas van ʼn koei op te pas nadat ʼn trop leeus dit aangeval het. Volgens die owerhede het die trop leeus die koei doodgemaak, waarna die inwoners saamgespan het om die leeus te verjaag om self die vleis in die hande te kry.
Een van die leeuwyfies het egter omgedraai en die groep aangeval. Die ouma is dadelik dood en die leeu het aan haar begin vreet.
Die voorval het omstreeks 02:00 plaasgevind.
Matthew Muleya, adjunkvoorsitter van die Hwange-distriksraad, het die voorval aan Sunday News bevestig. “Ons het bewaarders na die toneel gestuur waar die leeuwyfie nog steeds aan die vrou gevreet het,” het Muleya gesê. Hulle het die leeu van kant gemaak.