
Die nuwe naamborde wat aangebring is. Foto: AfriForum Jeug
Kgosientso Ramokgopa, die uitvoerende burgemeester van die stad Tshwane, het gesê lede van AfriForum Jeug wat Kerkstraat-bordjies aangebring het in Pretoria, het “rassisties” opgetree.
“Ons veroordeel die uitdagende optrede deur ʼn groep studente van AfriForum Jeug wat op 10 Januarie die ou Kerkstraat-borde bygevoeg het op WF Nkomo-, Stanza Bopape-, en Helen Joseph-straatnaampale,” het Ramokgopa in ʼn verklaring gesê.
“Die optrede was doelbewus om kwaad te stook by mense wat sterk voel oor koloniale simbole, argitektuur en kulturele installasies wat in ons openbare plekke op die voorgrond is, en die voortslepende maatskaplik ekonomiese ongelykhede tussen rassegroepe in Suid-Afrika,” het die burgemeester gesê. “Ons beskou hierdie onlangse betoging as nóg ʼn rasse-aanval op ons nasionale demokratisering en nasieboupogings. Dit is ʼn desperate poging deur die minderheidsgroep om die gees van ʼn ‘swart gevaar’ en die leuen te bevorder dat die Afrikanergemeenskap onder bedreiging van uitwissing staan as gevolg van die optrede van ʼn swart nie-Afrikaner regering.”
Volgens die burgemeester is ʼn regsproses steeds binne die regte van die studente, maar die onlangse optrede om die hele straatnaamproses om te keer, “pas presies binne die huidige herlewing van anti-swart rassisme en fascisme in Suid-Afrika”. “Dit is ʼn stryd wat alle Suid-Afrikaners moet stry,” het Ramokgopa bygevoeg.
“Ons is jammer dat die oortreders, nadat hulle in hegtenis geneem is, later vrygelaat is sonder dat ʼn dossier teen hulle oopgemaak is. Ons het gevolglik besluit om weer die polisie in Sunnyside te nader om onder andere klagtes van saakbeskadiging, vandalisme en skending van ʼn hooggeregshofbevel teen die leierskap van AfriForum Jeug aanhangig te maak.”
Volgens Ramokgopa bly die munisipaliteit binne sy reg om nie die ou name weer aan te bring totdat alle moontlikhede uitgeput is nie.
“Die stad Tshwane is oortuig dat die nuwe name ons ryk, wye verskeidenheid van kulturele en natuurlike hulpbronne, godsdienstige, etniese en historiese erfenis van die stad reflekteer. Ons doen ʼn beroep op die jeug, gemeenskappe en burgers om nie aan sulke kwaadwillige veldtogte deel te neem nie, maar eerder konstruktief sal deelneem om te bou aan ʼn Suid-Afrika wat aan almal behoort,” het Ramokgopa bygevoeg. “Ons sal steeds nasiebou en maatskaplike kohesie onder ons jeug bly bevorder en seker maak dat ons ontwikkelende inisiatiewe ten doel het om die rasseskeiding in ons stad te oorbrug.”
Ramokgopa het gesê hy sal in April tydens sy stadsrede ʼn maandlange program aankondig vir die 40ste herdenking van die 16 Junie 1976-betogings.
Lees alle vorige berigte oor AfriForum Jeug op Maroela Media.