
David Molak (heel links) saam met sy broers Chris en Cliff en hulle ma, Maurine. Foto: Facebook via Cliff Molak
Cliff Molak vertel in die brief, wat reeds meer as 20 000 keer op Facebook versprei is, hoe sy broer, David, vir jare onder kuberboelies deurgeloop het. Daily Mail berig David was so erg op skool geboelie dat hy twee keer vantevore probeer het om selfmoord te pleeg. Sy ouers het hom naderhand na ʼn private skool geskuif en vir berading gestuur, maar die boelies het hom steeds deur die internet gevolg oral waar hy gegaan het.
David se liggaam is Maandag op die erf van sy ouers se huis in San Antoinio, Texas, gevind waar hy glo homself gehang het.
“Ek het die pyn in David se oë gesien drie aande gelede toe sy nommer by ʼn boodskapgroep gevoeg is net sodat almal hom kon terg en hom twee minute later kon uitskop,” het Cliff geskryf. “Ek het direk daarna met hom gepraat en hom probeer troos, maar hy het my nie eers gehoor nie. Hy het net in die verte in gestaar vir omtrent ʼn uur. Ek kon sy pyn voel. Dit was ʼn tasbare pyn. Hy het nie eers die kontakbesonderhede gehad van enige van die agt persone wat die groep begin het nie. Dit is belangrik om te weet dat David vir baie lank hierdie soort mishandeling moes verduur.”
Cliff sê verder in sy brief dat die probleem by huishoudings en skoolstelsels lê waar daar nie genoeg klem op aanspreeklikheid en karakter geplaas word nie. “Die enigste manier om hierdie land en ons gemeenskappe te genees, is om die idee te aanvaar dat ons moet begin om karakter van die grondvlak af te bou anders sal ons samelewing nooit herstel nie,” het hy geskryf.
“Dit is my droom dat die genesing van hierdie nasie David se nalatenskap is. Help my asseblief om hierdie boodskap te versprei.”