
Pres. Jacob Zuma. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie
Dit is die mening van die Vryheidsfront Plus. “Met hierdie opmerking teiken Zuma die wittes in Suid-Afrika asof hulle die oorsaak is van armoede, ongelykheid en werkloosheid. Daar word ook gereeld in die parlement gesê ‘wittes het die grond gesteel’. Dit stook rassehaat en die Vryheidsfront Plus gaan ʼn klagte van rassisme indien by die Menseregtekommissie (MRK) om Zuma te ondersoek,” het dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder oor grondsake van die Vryheidsfront Plus, gesê.
“Die feit dat Zuma hierdie opmerking in Rustenburg voor tradisionele leiers gemaak het, vererger die situasie as in gedagte gehou word wat die gevolge was met die uitlatings van die Zoeloe-koning oor vreemdelinge in Suid-Afrika. Dit is ook duidelik dat Zuma die EFF probeer troef oor die grondkwessie wat emosies en humeure vinnig laat opvlam.
“Die teendeel oor grond is egter waar. Grond vereis harde werk en kundigheid om bewerk te word en om produksie te lewer. Die blote besit van grond gaan nie armoede, ongelykheid en werkloosheid skielik oplos nie. Zuma en die ANC weet nie meer hoe om armoede en werkloosheid op te los nie en nou word die wittes op ʼn onverantwoordelike en emosionele wyse daarvoor beskuldig. Dit is ʼn gevaarlike resep wat rassekonflik skep,” het Groenewald gesê.
Die vakbond Solidariteit het intussen vandag gesê dat Zuma se onlangse optrede nie strook met sy leë beloftes om Suid-Afrika vir alle Suid-Afrikaners ’n beter plek te maak nie. Dit volg in reaksie op die president se toespraak wat by die gala-geleentheid ter viering van die ANC se 104de bestaansjaar gelewer is.
Zuma het onder meer beklemtoon dat die ANC voortaan alles in die stryd gaan werp om openbare geld verantwoordelik te bestee, korrupsie hok te slaan en meer hulpbronne aan armes beskikbaar te stel. Zuma het verder gesê dat die ANC geen steen onaangeroer sal laat om Suid-Afrika ’n beter plek vir almal te maak nie en dat hulle respek sal verdien deur hul voorbeeldige optrede as regerende party.
“President Zuma het duidelik sy onvermoë om Suid-Afrika na ’n meer doeltreffende en ekonomies welvarende samelewing te lei, ten toon gestel. Verder is sy termyn beklad met korrupsieskandale wat belastingbetalers veel meer as net die koste van Nkandla uit die sak gejaag het,” het Francois Redelinghuys, woordvoerder van Solidariteit, gesê.
Volgens Redelinghuys is die president se onlangse afdanking van die oudminister van finansies, Nhlanhla Nene, net een voorbeeld van sy swak besluitneming wat nie tekenend is van ’n president wat werklik die beste ekonomiese omstandighede vir Suid-Afrikaners wil skep nie. “Korrupsie en finansiële onreëlmatigheid vier hoogty onder die Zuma-administrasie wat ook verlede jaar deur die Solidariteit Korrupsieverslag uitgewys is. Voorbeelde soos Nkandla, Prasa, die SAL en dit wat op plaaslike regeringsvlak gebeur, kan maklik by hierdie lys gevoeg word,” het Redelinghuys gesê.
“Die ANC is in trurat en onlangse onthullings het die party net verder in omstredenheid gedompel. Dit is duidelik dat die ANC nou hard veg om stemme te probeer behou voor vanjaar se munisipale verkiesing,” het Redelinghuys verduidelik.